ANNIE KLOPPERS – NETBALSTER WAT NIE DIE BAL LAAT VAL NIE  

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Om Nieu-Seeland in die 1995 Wêreldbeker Netbalkampioenskappe (deesdae bekend as die Netbal Wêreldbekertoernooi) te klop, was ‘n hoogtepunt. Meer nog, omdat ons as silwermedalewenners tydens hierdie kampioenskappe kon wegstap, slegs ‘n jaar nadat Netbal Suid-Afrika weer tot internasionale sportdeelname toegelaat is.”

Annie Kloppers, Protea-netbalspeler en vooraanstaande internasionale netbalskeidsregter, was ‘n spanlid tydens dié 1995 Wêreldbeker Netbalkampioenskappe. Sy was ook ‘n Springbok sewekampatleet en Afrika-rekordhouer, toe nog onder haar nooiensvan, Le Roux.  

Kloppers is van mening dat haar krag, tegniese vaardighede en kapasiteit om emosioneel vinnig by veranderende omstandighede aan te pas, die rede vir haar sukses in so ‘n uiteenlopende verskeidenheid items en sportsoorte was. Dit was ook vir haar belangrik om nie net by een sportsoort betrokke te wees nie en die kombinasie van netbal as ‘n spansport en atletiek as ‘n individuele sportsoort het vir haar gewerk.

Haar atletiekloopbaan is in 1988 en haar netballoopbaan in 1998 as gevolg van beserings beëindig. Haar liefde vir netbal en haar dryfkrag om steeds ‘n bydrae te lewer, het egter daartoe gelei dat sy as nasionale en internasionale netbalskeidsregter by die sport betrokke gebly het. Sy is tans selfs besig om op ‘n nog hoër vlak as ‘n geakkrediteerde gradeerder van internasionale netbalskeidsregters te kwalifiseer.

“Netbalreëls is vir my belangrik en dit gee vir my bevrediging om as mentor spelers en skeidsregters te help om dit te verstaan en korrek toe te pas,” sê Kloppers. Haar kennis in hierdie verband het daartoe aanleiding gegee dat sy ‘n hoog aangeskrewe handleiding, Netball – play with rules, gepubliseer het. Sy het ook onlangs ‘n blog – netballrules – begin waarin sy netbalskeidsregters bekendstel en vrae oor die reëls beantwoord.  

Wanneer Kloppers verduidelik dat netbal ‘n aanvallende, selfs aggressiewe benadering vereis, word dit duidelik waarom dit juis haar dryfkrag en kommunikasievermoë op die baan was wat haar as speler laat uitstaan het. Dit was vir haar opwindend om die spel voortdurend te lees en om haar opponente op ‘n strategiese en proaktiewe wyse te uitoorlê. “Elke wedstryd was anders. En om die oorhand in die onbekende te verkry, was my groot dryfveer,” sê Kloppers.

Kloppers glo in passie. “Om te wen is nie maar net niks nie. Vier dit!” sê sy. “En raak emosioneel indien jy verloor het. Dit help om daarna weer sinvol van nuuts af te begin.”

Die hoogtepunt in Kloppers se sportloopbaan was toe nie die silwermedalje in die 1995 Wêreldbeker Netbalkampioenskappe nie, maar die persoonlike oomblik toe haar pa wat ‘n introvert was, op die baan gehardloop het om haar geluk te wens toe sy ‘n nuwe Afrika-rekord in sewekamp in 1986 opgestel het. En dit bied ‘n ander perspektief op hierdie kompeterende persoon. Vir haar gaan dit nie net oor prestasie in sport nie, maar veral ook oor die koestering van emosionele en persoonlike dinge wat lewenswaarde toevoeg. En haar inisiatiewe om haar netbalkennis en –liefde met ander te deel en sodoende dié sport te bevorder, spreek boekdele van hierdie mens vir wie die saak belangriker as sy self is.