OOK BELGIËRS KAN BILTONG MAAK

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor ouer, familie-georiënteerde besighede in Stellenbosch wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Ek hoop om eendag saam met my seun af te tree.” So sê Raymond Desseyn van Birdstraat Slaghuis.

Raymond kom in die 1950’s uit België na Suid-Afrika om vir ‘n paar maande saam met sy oom - Cyril Hosten – in sy slaghuise in Stellenbosch te werk. Eers hier, maak hy Suid-Afrika sy nuwe tuiste.  

Raymond wat as slagter in België gekwalifiseer het, neem Birdstraat Slaghuis – toe reeds twee jaar in besit van sy oom – in 1956 by hom oor. Die slaghuis was in toe nog Birdstraat geleë. Met die ontwikkeling van die Pick n Pay sentrum kry Raymond die geleentheid om die ou gebou te verkoop en ‘n nuwe slaghuis wat beter aan sy vereistes voldoen, te bou. Hy betrek dit in 1981.

Sy seun, Bert, wat sedert 1988 saam met Raymond werk, neem die besigheid in 1998 oor. Raymond bly steeds betrokke.

“Ons is waarskynlik die slagters op Stellenbosch wat die langste in die slagtersberoep is,”sê Bert. “Ons is ook van die min slaghuise wat nog heel karkasse koop en dit self bewerk. Sodoende verskaf ons die hele spektrum van vleisprodukte, vars en voorbereid. Ons lewer vleis soos individuele klante dit wil hê.”

Bert en Raymond kom ‘n pad met hul klante. “Ons weet reeds wat sommige klante wil hê wanneer hulle by die deur instap,” sê Bert. Die woord lojaal is seker nie vergesog nie as vierde-generasies van Stellenbosch-families nou hul vleis by die slaghuis koop.

Toe Bert die besigheid oorgeneem het, het sy ma wat die boekhoudster was, gewaarsku dat sy sal ophou werk indien pa en seun woorde het. “Dit was nooit vir haar nodig om die dreigement uit te voer nie. Ek en my pa werk lekker saam,” sê Bert. “Maar ons het ook geleer wanneer om liewer stil te bly,” skerts hy.

En dit som die atmosfeer by Birdstraat Slaghuis op – ‘n besigheid waar spontaan geskerts en lekker saam gewerk word. Dit, tesaam met die toegewyde personeel en die wete dat klante hier presies kry waarvoor hulle vra, is waarskynlik hoekom agterkleinkinders nou al deel van hul lojale klante uitmaak.   

En dan verstaan ‘n mens hoekom Raymond nie wil ophou werk nie en hoop om eendag saam met Bert af te tree. Die slaghuis wat gemaak het dat hy in Suid-Afrika gevestig het, is ‘n deel van sy lewe net soos wat dit deel van Bert, hul personeel en Stellebossers se lewens geword het.       

Einde