RADIOTEGNOLOGIE – DIE VOLGENDE VLAK

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Ons verskaf radiotegnologie as kommunikasiemiddel tussen beheerstelsels en dit wat op die grond beheer en gemeet word,” sê Koos Rademan van BJR Electronics in die Stellenbosse Tegnopark.

Dié maatskappy bedien hoofsaaklik die landboumark. Hul radiostelsels kan egter in veel wyer velde in beheer en in telemetrie-toepassings – die geoutomatiseerde kommunikasieproses waardeur elektroniese metings gemaak en data oor lang afstande versamel en teruggestuur word – aangewend word.

Volgens Rademan hou radiotegnologie groot voordele as kommunikasiemiddel in.  Radio’s bied wye dekking, veral in afgeleë en ontoeganklike gebiede waar geen selfoondekking is nie. Dit is betroubaar, goedkoop om te gebruik en bied lang batterylewe.

BJR Electronics ontwerp en vervaardig drie produkreekse – radiobeheerde besproeiingstelsels, grondvogmeters, asook toerusting om temperatuur in koelkamers te meet. Die maatskappy se bemarking en verkope word deur ‘n vennoot-maatskappy, Irri-Gator Products, gedoen wat nie net die plaaslike mark bedien nie, maar ook na lande soos die VSA en Italië uitvoer.   

BJR Electronics staan op die vooraand van ‘n groeiperiode. “Met ons ondervinding sedert 1993 in radiotegnologie, is ons uitstekend geposisioneer om ons volgende groeifase in die nuutste DSSS-veld (direct sequence spread spectrum) te betree,” sê Rademan. Anders as tradisionele radiotegnologie wat punt tot punt kommunikasie tussen radiotoestelle behels, gebruik DSSS radiofrekwensie-tegnologie om plaaslike area netwerke te skep waar toestelle wat elektronies via die netwerk met ander toestelle koppel, gekoppel bly solank dit binne hierdie netwerk-sambreel is. Hierdie tegnologie word verder versterk deur sogenoemde LoRa radiofrekwensie-tegnologie wat data oor veel langer afstande as voorheen versend.

“Uiteindelik skakel hierdie tegnologie by die “Internet van Dinge” in,” sê Rademan. Hierdie konsep is die samevloeiing van netwerktegnologie, mikro-elektromeganiese stelsels en die internet en behels die hedendaagse neiging om elektroniese apparate met die internet te verbind sodat dit via `n rekenaar of selfoon vanaf enige plek op aarde gemoniteer of beheer kan word. Voorbeelde hiervan is stelsels in fabrieke, alarmstelsels in wonings, selfs die data wat voortdurend via die netwerk vanaf ‘n persoon met ‘n hartmonitor na ‘n sentrale moniteringsfasiliteit versend word ten einde die persoon se hartwelstand te monitor.

Ek was aanvanklik onseker oor wat ek by BJR Electronics sou raakloop. Kan radiotegnologie dan nog werklik innoverend wees? Wat ek gevind het, het na wetenskapfiksie geklink. Hier is, enersyds, ‘n maatskappy wat praktiese en bewese radiotegnologie aan die landbousektor lewer en, andersyds, voorberei om die wonderwêreld van die “Internet van Dinge” te betree.

Innoverend? Ja. Visionêr? Beslis! Radio-elektronika vir die toekoms… wat nóú begin.   

Einde

Klik hier http://bit.ly/1FyIBmD om die artikel op Eikestadnuus se webblad te lees.