CARLIEN CORNELISSEN – LANGAFSTANDATLEET MET MOOI HERINNERINGE  

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Atletiek het reeds in my laerskooldae deel van my lewe geword,” sê Carlien Cornelissen. “En my besluit in standerd vyf dat ek eendag ‘n Springbok wil word, is elf jaar later bewaarheid toe ek Suid-Afrika in 1994 die eerste keer internasionaal verteenwoordig het.”

Cornelissen (haar getroude van is Van Niekerk) het in die 1990’s en daarna bekendheid in baan-, pad- en veldwedlope verwerf. Sy het aan middel- en langafstanditems, asook aan halfmarathons deelgeneem en Suid-Afrika tydens verskeie Wêreld-studentespele, IAAF Wêreldkampioenskappe en ander internasionale byeenkomste verteenwoordig.

Oor die uitdaging om oor so ‘n wye spektrum van items suksesvol te presteer, is Cornelissen van mening dat haar spoed en stamina die sleutel tot haar sukses was. Ook het sy die vermoë gehad om sielkundig optimaal vir elke wedloop ingestel te wees. “Ek het myself emosioneel vir die begin, die middel en die einde van wedlope voorberei. En omdat ek van die begin af die voortou geneem het, het dit my toegelaat om net op myself en my prestasie te konsentreer. Wat agter my gebeur het, was nie belangrik nie.”

Cornelissen het, waar moontlik, roetes vooraf verken om vir wedlope voor te berei en daarvoor gereed te wees. Tog was sy altyd gespanne met die wegspring. “Jy staan tussen die wêreld se beste atlete,” sê sy. “Maar terselfdertyd is dit ‘n belangrike deel van die wedloop en dra die spanning tot jou prestasie by.”

Hoewel atletiek hoofsaaklik ‘n individuele aanslag het, sê Cornelissen dat sy ‘n spanmaat sou kies om saam met haar te oefen en te hardloop sou sy weer kon begin. “Een mens kan nog gewen word, maar twee mense nie!” sê sy met oortuiging wanneer sy hierdie benadering vir opkomende atlete aanbeveel.

Cornelissen se grootste teleurstelling was toe sy deelname aan die Olimpiese Spele in Atlanta met ‘n tyd van 0,15 sekonde gemis het. Aan die ander kant onthou sy die lekker van die adrenalien (en die gepaardgaande spierpyne!) wanneer sy wedlope gewen het, die kameraderie om in ‘n groep te oefen, die spesiale oomblikke wanneer kinders haar handtekening gevra het, haar ouers se ondersteuning en, les bes, die besondere rol wat Hennie Botha – haar afrigter – in haar atletiekloopbaan gespeel het.

Cornelissen het in 2004 ophou deelneem. “My prioriteite het verander en dit was tyd om aan te beweeg,” sê sy.

Deesdae is dit vir haar belangrik om tyd saam met haar man en kinders deur te bring. Dit is egter nie ‘n verrassing om te verneem dat die gesin veral van buite-aktiwiteite hou nie! “Die kompeterende deel in my sal altyd maak dat ons uitdagende dinge aanpak. Aan die ander kant is dit ook ‘n voorreg om nou te konsolideer en die ervaring en vorming wat atletiek my gegee het, sinvol met my gesin te deel.”

En wanneer Cornelissen opgewonde van haar dogtertjie se atletiekvaardighede vertel, is dit duidelik dat atletiek in hierdie innemende, vriendelike en omgee-mens se lewe voortleef, al het dit in 2004 geëindig.