DAWIE DE VILLIERS – DINAMIESE SPORTMAN, VEELSYDIGE LEIER

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Ek sal ‘n saak deeglik ondersoek. Wanneer ek dan besluit, voer ek dit vasberade uit.”

Aan die woord is dr. Dawie de Villiers, Springbokskrumskakel in 25 toetse vanaf 1962 tot 1970 en kaptein tydens 22 van hierdie kragmetings. En, met inagneming van die gewildheid van hierdie dinamiese sportman, kan daar met veiligheid na hom verwys word as een van die mees beminde Springbokrugbyspelers van sy tyd en selfs daarna. Wat hy in rugby en in sy loopbaan daarna bereik het word, onder meer, geïllustreer deur die feit dat hy een van net ses Suid-Afrikaanse spelers is wie se name op die Twickenham Wall of Fame by die Wêreldrugbymuseum in Londen verskyn. Een van die kriteria waaraan ‘n speler moet voldoen om hierdie eer te ontvang, is dat hy uitnemendheid (greatness) in sy internasionale loopbaan bereik het.

De Villiers het inderdaad ‘n uitnemende internasionale loopbaan gehad. Hierdie eertydse predikant in Wellington – waar sommige ouderlinge gevoel het dat dit onbetaamlik vir hul predikant was om rugby te speel! – het tydens en ná rugby ‘n draai as lektor by twee Suid-Afrikaanse universiteite gemaak, hy was die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Londen, ‘n kabinetsminister verantwoordelik vir handel, nywerheid en toerisme en later minister van mineraal- en energiesake asook openbare ondernemings. Hy was vir 10 jaar die adjunk-sekretaris-generaal van die Wêreldtoerisme-organisasie van die Verenigde Nasies (UNWTO) met hoofkantoor in Madrid, en was ten volle betrokke by die Codesa-onderhandelinge om ‘n nuwe Grondwet vir Suid-Afrika daar te stel.

As gesoute diplomaat kry hierdie beskeie man dit behendig reg om vrae oor hoogtepunte in sy rugbyloopbaan te ontwyk. Hy vertel hoedat Dok Danie Craven die Matie-rugbyspelers jaarliks per trein na die binneland gestuur het om Matie-rugby te bemark. Hy noem dat hy ‘n spanlid was tydens die Suidelike Universitieite se rugbytoer na die destydse Noord- en Suid-Rhodesië – wat hy grappenderwys sy eerste buitelandse toer noem, en hy verwys na die Betoger-toer in 1969 na die Britse Eilande as die moeilikste toer in sy rugbyloopbaan. Maar hy vertel min oor Dawie de Villiers self. Is dit omdat dit waarna hy altyd gestreef het, voorrang bo hom as persoon kry?

De Villiers verwys met waardering na baie vriendskappe wat gesmee is as gevolg van rugby. Hoewel politiek nie sy eerste liefde was nie, is hy ook dankbaar vir die ervaring wat hy as ambassadeur en kabinetsminister opgedoen het en vir die rol wat hy daardeur kon speel.

En hierdie ingesteldheid, om op positiewe wyse ‘n verskil te probeer maak, motiveer hom steeds. Sy boodskap aan vandag se sportlui is: “Behou balans. Sport is nie alles nie. Verruim jou lewe en wees vasberade in wat jy doen.”

Mense sal die veelsydige Dawie de Villiers om baie redes onthou, maar veral as dié rugbykaptein en rolmodel van sy tyd. En miskien het wyle dr. Danie Craven dit die beste opgesom toe hy gesê het dat hy De Villiers sal onthou omdat hy, bo alles, sy rugby geniet het en ‘n man was wat op die loutere opwinding van kompetisie floreer het.