DAWIE SNYMAN – OOR SY TWEEDE LEWE

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant - Eikestadnuus - verskyn het.

“Ek is in die éérste plek ‘n Christen. Ek is ook ‘n Suid-Afrikaner, met al die diversiteit wat daarmee gepaardgaan. En niks hiervan is deur my eie toedoen nie. Dit was die wil van die Here,” se Dawie Snyman, Springbokrugbyspeler van 1971 – 77 met 10 toetse agter sy naam. “Ek is 43 jaar lank getroud met Pam, ons het vier pragtige dogters en agt nog mooier kleinkinders,” voeg hy by wanneer hy praat oor wat hy sy eerste lewe noem.

Wat sy tweede lewe – rugby – betref, het Dawie as Springbok aanvanklik losskakel gespeel, later heelagter. Hy het hy ook vir WP gespeel en is sedert 1920, naas JC van der Westhuizen en Dr. Danie Craven, een van slegs drie spelers wat eers op nasionale vlak en daarna provinsiaal gespeel het. 

Oor die andersheid van sportbeoefening in die 1970’s sê Dawie dat hy en sy spanmaats rugby net om een rede gespeel het – om dit te geniet. “Dit het ons geld gekos en het persoonlike opofferinge vereis aangesien ons die sport in ons vrye tyd en sonder borgskappe beoefen het. Studies, beroepe en sportbeoefening het hand aan hand gegaan. Ons moes tyd ekonomies gebruik om volhoubaarheid te verseker.”

Rugby-Springbok beteken om in die kalklig te wees. “Die kalklig is gevaarlik en ek het aanvanklik foute gemaak,” sê Dawie. “Ek het egter balans gekry toe ek uit die Bybel geleer het dat mens jou optrede moet ondersoek en as dit goed is, mag jy  trots wees, maar sonder om jou met ander te vergelyk.” Hierdie insig het vir Dawie gemoedsrus gegee – trots op wat hy bereik het, maar sonder opweeg teenoor ander.

Hoe het Dawie kritiek hanteer? “Ek het nog altyd probeer om iets opbouend daaruit te haal,” sê Dawie. “As kritiek egter onregverdig was, het ek dit maar laat verbygaan. Rugby-kritiek was ook eenvoudig. Dit was gewoonlik ná ‘n spesifieke wedstryd en daar was nie tyd vir tob nie – die volgende wedstryd het gewag.”

As Springbok het Dawie oorsee teen Australië, Frankryk en Argentinië (Gazelle) gespeel. Suid-Afrika se destydse politieke beleid het egter ‘n demper op die spel geplaas. Hy onthou dat die span tydens die 1971-toer na Australië met die Suid-Afrikaanse Lugdiens tot daar gevlieg het. Die Australiese lugredery het geweier om hulle aldaar te vervoer en hulle moes noodgedwonge met vyf private ligte vliegtuie na hul wedstrydbestemmings reis. As gevolg van die apartheidsbeleid is die 1973-toer na Nieu-Seeland gekanselleer en hy het ook nooit die geleentheid gehad om teen die Britse Eilande te speel nie.

Vir Dawie is die hoogtepunt die feit dat hy rugby in alle fasette kon speel en beoefen – hetsy as deel van die Springbokspan, as rugbyafrigter in Kaapstad, Rome of elders in die wêreld, selfs al was dit om vir ‘n o.10-skolespannetjie in Kroonstad te kon uitdraf. “Die rugbywêreld en die ervaringsrykdom wat die spel my gegee het, was ‘n voorreg wat ek van my Skepper ontvang het en teenoor Wie ek altyd daarvoor dankbaar sal wees,” sê Dawie.