DIE ALFAHOND-MITE

In hierdie derde aflewering in die reeks vir die Eikestadnuus oor hondegedrag deur Johan du Preez in samewerking met Stellenbosser Roché Compaan – 2015 SA Agility-kampioen saam met sy hond Sumo – skryf hulle oor die alfahond-mite.

“Wolwe in die natuur lewe nie in troppe nie, maar as families. Net soos mense, woon en werk ‘n manlike en vroulike wolf as ouers saam om hul werpsel te versorg. Dit is dus nie vir die manlike wolf nodig om vir dominansie te veg nie.”  

Roché Compaan maak hierdie stelling aan die hand van navorsing wat Dr. L. David Mech onder wolwe in die natuur gedoen het en waarin hy tot die slotsom gekom het dat die sogenaamde alfawolf-teorie waarin wolwe sou veg vir dominansie in hul groep, nie korrek is nie. Verder meld dierekenner Temple Grandin in haar boek Animals Make Us Human dat die alfawolf-teorie ontstaan het aan die hand van navorsing wat gedoen is onder wolwe in aanhouding. Hierdie diere was nie in natuurlike families nie en met beperkte ruimte en bronne tot hul beskikking, moes hulle ‘n manier uitwerk om met mekaar oor die weg te kom en sou hulle om leierskap in die trop meeding.

“Aangesien honde geneties van wolwe afstam, het honde wat saam met mense leef dus nie ‘n dominerende tropleier in ‘n eienaar nodig nie, maar eerder ‘n versorger soos ‘n ouer ‘n kind versorg,” sê Compaan.

Volgens Compaan kan honde – soos mense – mekaar wel in sekere gevalle domineer, byvoorbeeld om ‘n ander hond se kos af te neem. Hierdie onderlinge insidente van dominansie is normaal en moenie verwar word met inherente dominansie soos die voorstanders van die alfahond-teorie dit sien nie. Honde het nie 'n begrip van hiërargië nie. Dieselfde hond wat 'n ander se kos afneem, deel dalk sy speelgoed sonder aggressie. As die alfahond-teorie waar was, sou die alfahond voortdurend seker maak dat hy alle hulpbronne beheer om bo-aan die hiërargie te bly.

“Dit is bevrydend om nie jou hond as ‘n dier te beskou wat jou huis op ‘n dominante manier wil oorneem nie, maar eerder as ‘n kind vir wie jy liefde en struktuur moet gee,” sê Compaan. “Hierdie benadering gee die geleentheid om jou hond positief te beloon wat gehoorsame gedrag veel vinniger ontwikkel as deur negatiewe en dominante dissipline. Hierdeur kry die hond die geleentheid om keuses te maak en word hy aangemoedig om die regte besluite te neem.”

“Om dit te bewerkstellig moet die mens egter ‘n opregte bewustheid hê van die hond se inherente behoeftes soos om vry te kan hardloop, te speel en te sosialiseer.”

Volgende week: Positiewe belonging.