TOERISTEPLEK, KUIERPLEK, KOOPPLEK

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor ouer, familie-georiënteerde besighede in Stellenbosch wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

Toeriste kom hierheen omdat dit oorspronklik is. Stellenbossers kom om te kuier. Mense koop ook vleis hier.

Eikeboom Slagtery is na wete die oudste, onafhanklike slaghuis in Suid-Afrika wat steeds op dieselfde perseel handel dryf.

Die besigheid is in die laat 1940’s deur ‘n Mnr Hosten in die Sawant-gebou in Dorpstraat begin. Arie Weerdenburg neem die besigheid later oor.

‘n Ander slagtery – Pleinstraat Slagtery – was toe te Pleinstraat 19 geleë waar Eikeboom Slagtery vandag is. Dit het reeds kort na 1875 begin handel dryf en was in besit van die Van Toorn-broers. Weerdenburg en die Van Toorns vestig ‘n vennootskap in die 1980’s, verander die naam van Pleinstraat Slagtery na Eikeboom Slagtery en bedryf een besigheid vanaf die Pleinstraat-perseel.

Die besigheid verwissel telkens van eienaar. Nic van Rensburg, die huidige eienaar, koop die slaghuis in 1996 en bedryf dit saam met sy vrou, Elize. 

“Ons het hard gewerk om Stellenbossers weer tuis te laat voel by Eikeboom Slagtery,” sê Nic. Die hoë omset van eienaars voor hom was nie goed vir die besigheid nie.

Volgens Nic verkoop hulle slegs die beste gehalte vleis. “Ons sal nie laer gehalte vleis teen afslag aanbied nie. Goeie vleis is nie goedkoop nie en ons klante verstaan dit,” sê Nic.

Twee dinge staan vir Nic en Elize vas. Die eerste is die persoonlike interaksie met hul klante. “Dit is ‘n voorreg om ons klante keer op keer in die slagtery te verwelkom,” sê Nic. En die vertroue wat beide eienaars en klante deur die jare in mekaar gehad het, word weerspieël in ‘n swart boekie wat Nic in die slaghuis ontdek het. Daarin is aangeteken wanneer klante vleis gekoop het, om aan die einde van die maand te betaal. Vanne soos Rupert en Hertzog kom saam met ander bekendes daarin voor.

Die tweede punt is die behoud van die outentieke binne-voorkoms van die slagtery. Die kenmerkende swart-en-wit vloerteëls is, volgens Nic, destyds uit Europa ingevoer. Ook dra die muurteëls en ander oorspronklike afwerkings by tot die slagtery se besondere atmosfeer in ‘n reeds historiese gebou.

Die oorspronklike uithangbord voor die ingang lees ‘Eikeboom Slagtery Tel 5731’. En ek verstaan hoekom ‘n slagtery in oorspronklike voorkoms ook ‘n toeriste-aantreklikheid kan wees. Ek verstaan ook hoekom Stellenbossers hier tussen bekendes tuis voel. En ek verstaan hoekom klante terugkom. Die ervaring, soos die vleis, is van hoogstaande gehalte. 

Einde