SUKSES BEHELS TRAPPE KLIM, SÊ ELANA MEYER

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Ek het spesiale herinneringe aan my deelname aan die Olimpiese Spele in Barcelona. Daar was emosie agter die spele. Dit was anders tydens die Olimpiese byeenkomste in Atlanta en Sydney daarna. Atlanta was Coca Cola, Barcelona was olé, olé!

Elana Meyer, bekroonde Springbok-langafstandatleet en wenner van ‘n silwermedalje in die 10 000 m tydens die 1992 Olimpiese Spele in Barcelona, was een van min Suid-Afrikaanse atlete wat ‘n volledige sportloopbaan gehad het tydens Suid-Afrika se sportisolasie en daarna. Sy verwerf Springbokkleure in 1985 en kry sewe jaar later eers die geleentheid om internasionaal deel te neem.

Meyer glo dat haar sukses as atleet onder meer toegeskryf kan word aan die feit dat sy reeds op skolevlak begin deelneem het, dat atletiek vir haar ‘n leefwyse was, en die afrigting wat sy gekry het. Benewens dit beskik sy oor die vermoë om vol te hou, deurentyd net op haar eie prestasie te fokus en haar nie met ander te vergelyk nie.

Vir Meyer was emosionele voorbereiding voor ‘n wedloop deel van die voortgaande proses van algemene voorbereiding om te wen. “Hierdie proses bly ook deel van die wedloop,” sê sy. “Die langafstandatleet het miskien meer tyd tydens ‘n wedloop om te dink, maar jou gedagtes mag nooit rondspring nie. Jy moet in die oomblik bly en jouself beheer.”

Volgens Meyer sal sy dinge nie anders aanpak nie, sou sy die kans kry om oor te begin. “Ek het van jongs af ‘n passie vir hardloop gehad. Dit was my eerste liefde en ek koester beide die laagte- en die hoogtepunte van my atletiekloopbaan.” Terugskouend sou sy egter met meer waardering, selfs met meer deernis deelgeneem het. “Dikwels neem die lewe jou na ongelooflike plekke. Leer om dan stil te staan en dit te waardeer.”

Sedert Meyer in 2005 uitgetree het, wy sy haar tyd voltyds aan sportontwikkeling. In 2012 stig sy en Janette Welham The SA Endurance Academy (Endurocad) – ‘n akademie om middel- en langafstandatlete holisties te ontwikkel. Die program behels ‘n geïntegreerde kurrikulum van sport- en akademiese opleiding om atlete voor te berei om hul rol volwaardig in atletiek en in die samelewing oor die lang termyn te kan inneem. Sy is ook saam met oud-Springbokrugbykaptein, Francois Pienaar, as ambassadeur aktief betrokke by die uitbou van die Sanlam Cape Town Marathon wat jaarliks in Kaapstad plaasvind.

Meyer se boodskap aan opkomende atlete is eenvoudig – vind jou passie, ignoreer die baie ander keuses tot jou beskikking, en glo end-uit daarin. “Ontwikkel uithouvermoë om jou droom te verwesenlik,” sê sy, en voeg dan by: “Daar is nie ‘n hysbak na sukses nie. Jy moet die trappe klim.”

‘n Silwer medalje in Barcelona was toe maar net die begin vir Elana Meyer. Sedertdien het hierdie inspirerende mens veel meer gedoen as om net rekords te laat spat. Met haar atletiekondervinding, mededoë vir haar medemens en die wil om ‘n verskil te maak, is sy vandag steeds besig om die lewens van elkeen wat haar pad kruis positief te beïnvloed.

Welgedaan, Elana! Olé, olé!