WÊRELDKLAS – EN TROTS STELLENBOSCH

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

Wêreldklas. Nie alleen val Entersekt in die Stellenbosse Tegnopark as maatskappy in hierdie kategorie nie, maar ook hul merkwaardige produk.

Die maatskappy ontwikkel en verskaf waarmerk-sagteware om gebruikers van selfone en rekenaars tydens aanlyn-banktransaksies teen aanlynbedrog te beskerm. Die stelsel is só effektief dat banke wat dit reeds geïmplementeer het, sedertdien geen aanlynbedrog ondervind nie. Die feit dat Entersekt met handelsnavrae vanuit Europa oorval word sedert Swisscard AECS, ‘n toonaangewende Switserse kredietkaartverskaffer, onlangs hul stelsel geïmplementeer het, onderskryf Entersekt se sukses.

Entersekt het onlangs ‘n kantoor in die VSA geopen. “Die VSA is bo-aan die lys van lande met ‘n aanlynbedrog-probleem,” sê Jeanne Maartens, Entersekt se bemarkingsdienste-bestuurder. “Ons het groot groeipotensiaal in hierdie mark en het reeds twee patente geregistreer om ons produk aldaar te beskerm.”

Entersekt spog met indrukwekkende toekennings. In 2011 word die maatskappy as een van die top tien mees innoverende sekuriteitsmaatskappye ter wêreld in San Francisco aangewys. In 2012 was Entersekt ‘n finalis in die Britse UK IT Industry Awards (Security Innovation) en die SESAMES Awards (IT Security) in Asië.  In 2013 ontvang die maatskappy die Frost and Sullivan South Africa Technology Leadership Award in Mobile Security. In dieselfde jaar is ‘n Entersekt-kliënt, Nedbank, die wenner van die MTN Business App of the Year 2013 (Best Consumer App on Android). Einde 2014 word Entersekt by die PwC Local to Global ekspo in Luxembourg op hul lys van die top drie snel-groeiende ontluikende maatskappye geplaas.

‘n Spesifieke aanlyn misdaadinsident het gelei tot Entersekt se totstandkoming. Christiaan Brand, tegnologie hoof van Entersekt, se ma het in die laat 2000’s geld as gevolg van aanlynbedrog verloor. Brand, toe ‘n nagraadse-ingenieurstudent aan die Universiteit Stellenbosch, het die geleentheid gesien om sagteware te ontwikkel om aanlynbedrog hok te slaan. Hy en drie mede-studente – Dewald Nolte, Niel Muller en Altus van Tonder – belê ‘n volle jaar om die Entersekt-produk te ontwikkel en Schalk Nolte, tans uitvoerende hoof, sluit kort daarna by hulle aan om die maatskappy te vestig.  

Entersekt het wêreldwyd weinig, indien enige kompetisie. “Ons het onsself in ‘n gegewe tydgleuf suksesvol gevestig,” sê Maartens. “Ons kompetisie is ver agter en kan net gedeeltelik lewer wat ons reeds vervolmaak het.”

Entersekt is vir Maartens veral spesiaal omdat dit ‘n trots Stellenbosch maatskappy is. “Entersekt dra die stempel van ons dorp en universiteit. Die maatskappy is hier gebore. Stellenbossers kan op ons trots wees soos ‘n mens op jou kinders trots is.”

Einde