‘N KLEIN RATJIE DRAAI GROOT WIELE

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

In die industriële wêreld is mense dikwels nie bewus van die klein ratjies wat die groot wiele laat draai nie. Etse Electronics in die Stellenbosse Tegnopark is so ‘n kleiner, dog kardinale, rolspeler wat bydra om omvangryke projekte te laat werk.

Die maatskappy ontwerp elektroniese produkte en was verantwoordelik vir die ontwikkeling van 'n sleutelkomponent vir die KAT-7 ontvanger, deel van die internasionale Square Kilometre Array (SKA) radio-teleskoopprojek in Suid-Afrika. Verder het Etse Electronics die hoogs-tegniese stelsel vir kommunikasie vanaf satelliet na die aarde vir Suid-Afrika se eerste satelliet ontwerp.

Professor Johann de Swardt het dié maatskappy in 1997 gestig met die doel om produkontwikkeling vir maatskappye wat nie noodwendig self die vermoë het nie, te doen. “Mense kom na ons met ‘n elektronies-geskoeide idee. Ons rol is om dit te ondersoek en, indien haalbaar, in ‘n werkbare produk te omskep,” sê De Swardt. Volgens hom het Etse Electronics die buigsaamheid, kennis en vaardighede om kliënt-spesifieke vereistes te verstaan en te bevredig.

Etse Electronics vervaardig self kleiner hoeveelhede produkte en bestuur die vervaardiging van groter produksie-hoeveelhede. Indien produksie nie’n vereiste is nie, word die projek produksiegereed aan die kliënt oorhandig.   

Maar Etse Electronics is nie net by hoogs wetenskaplike projekte betrokke nie. Hulle ontwikkel ook produkte wat ‘n verskil in die alledaagse lewe maak. So byvoorbeeld was hulle deur Wisepill Technologies, ‘n Somerset-Wes maatskappy wat spesialiseer in mediese toestelle, gekontrakteer om die hardeware vir die Wisepill Dispenser te ontwikkel. Hierdie sakgrootte medikasie-toediener kommunikeer deur middel van selfoontegnologie met ‘n sentrale bestuurstelsel wanneer ‘n pasiënt die voorgeskrewe medikasie geneem het. Indien die persoon sou vergeet, word ‘n teksboodskap na sy of haar selfoon gestuur as herinnering om die medikasie te neem.

Nog so ‘n praktiese produk is Cellmax, ‘n elektroniese halsband wat om die nek van ‘n dier in ‘n kudde geplaas word en die kudde se gedrag monitor. Indien die gedrag afwyk soos gebeur tydens veediefstal of aanvalle deur roofdiere, ontvang die boer ‘n selfoon-waarskuwing van die gedragsafwyking.

Etse Electronics is daarop toegespits om ‘n spesifieke nis in die mark van elektroniese ontwikkeling te bedien. Daardeur lewer hulle nie net ‘n bydrae tot groter projekte nie, maar maak die produkte wat hulle ontwikkel ook ‘n verskil in mense se alledaagse lewens.

En om so ‘n verskeidenheid van produkte vir verskeie kliënte te ontwikkel, bied waarskynlik meer bevrediging as om net op een produk van jou eie maatskappy ingestel te wees.

Einde