‘N WINKEL MET ‘N SKOUER OM OP TE LEUN

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor ouer, familie-georiënteerde besighede in Stellenbosch wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“As jy iets wil weet of as jy iets nodig het, gaan na Fidders.”

Hierdie is nie bemarkingstaal nie. Volgens Helena Strauss, mede-eienaar van Fidders, is dit advies wat baie ouers wat op Stellenbosch studeer het, aan hul kinders gee wanneer hulle as studente hier inskryf.

Herman Fidders stig die besigheid wat elektriese toestelle herstel in 1945 op die perseel waar dit vandag nog is. Sy seun en skoondogter, Johan en Martie, sluit later by hom aan en hulle begin ook elektriese toestelle en geskenke verkoop. 

In 1986 neem Helena wat toe reeds sewe jaar lank boekhoudster was, die besigheid by die Fidders oor. Sy verkoop die werkwinkel-gedeelte later en spits haar op verkope toe. Sy voeg ‘n beligting-afdeling by en werf Danie Mostert wat hom later as ‘n beligtingspesialis bekwaam, om by haar aan te sluit. Die alombeminde Danie word in 2000 ‘n vennoot.

Helena se dogter, Melinda, is sedert 1992 die besigheid se rekenmeester en neem nou die leisels by Helena oor.

“Ek sien geen groot advertensieborde nie. Wat verkoop Fidders nou eintlik?” sê-vra ek. Volgens Helena verkoop hulle geskenke, beligting, kombuisware en huishoudelike toestelle. Ander winkels stuur ook dikwels klante na Fidders toe wanneer hulle self nie kan help nie. “As jy iets in Stellenbosch soek, gaan soek dit by Fidders,” is skynbaar ‘n gesegde op die dorp.

Dit is duidelik dat Fidders anders is. Die voorraad word met met sorg uitgesoek en aangekoop. Die winkel lyk lekker om in te snuffel. Daar heers ‘n ontspanne atmosfeer en daar word gelag, met klante gesels en met klante stil geword, wanneer nodig. Dit verduidelik hoekom families hier kom koop. Dit is ‘n kuierplek waar families nog tuis voel. “Ons is afhanklik van God en dank Hom vir sy genade,” sê Helena.

Volgens Helena gebeur dit dikwels dat mense wat lank van Stellenbosch af weg was en terugkom, bly is om te sien dat Fidders steeds daar is. Die besigheid is vir hulle ‘n kleinood. En dit is ‘n feit dat studente gereeld op advies van hul ouers wat ver is, om hulp kom aanklop.

En as ek sien hoe daar met begrip en omgee met klante omgegaan word, dan weet ek dat selfs diegene wat niks kom koop nie maar wat net ‘n skouer soek om op te leun, ook welkom is. Hoe dan anders? Pa en Ma het dit dan gedoen toe húlle studente was. 

Einde