VAN SKIETBAAN TOT GHOLFBAAN – ALLES OOR SPOED

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Met grondverskuiwende tegnologie maak ons ‘n verskil in hoe sportsoorte soos gholf aangeleer, afgerig en gespeel word,” sê Tom Johnson, direkteur van FlightScope in die Stellenbosse Tegnopark.

FlightScope het sy ontstaan te danke aan die militêre tegnologie van sy eertydse moedermaatskappy, EDH, wat die spoed van koeëls meet ten einde die akkuraatheid van veral kanonvuur te help verseker.

Met hul sukses in die militêre mark begin EDH in die middel 1990’s om nie-militêre toepassings vir hul tegnologie te ontwikkel. Hul eerste kommersiële produk meet die spoed van krieketballe. Die TV-kanaal Supersport begin dit gebruik om die spoed waarteen boulers krieketballe afstuur, te meet om hul krieketuitsendings toe te lig. Hierdie aanwending lei tot die ontwikkeling van ‘n soortgelyke produk vir tennis wat tydens TV-uitsendings – insluitend Grand Slam-toernooie – gebruik word.

Later stig EDH FlightScope om die kommersiële produk en mark te hanteer. Dié maatskappy spits hom toe op verskeie sportsoorte waarvan gholf tans die belangrikste is. Vir die gholfmark ontwikkel hulle lae-drywing radartegnologie, selfs meer gesofistikeerd as die militêre tegnologie, om meer as 20 elemente tydens ‘n gholf-afslaan te meet. Dit sluit, onder meer, die spoed en tolbeweging van die gholfbal, asook – in drie dimensies – die afslaan- en naderingshoeke, vlugpatroon van die gholfbal en selfs die gholfstok tydens afslaan, in. Hierdie metings en beelde is onmiddellik op spelers se selfone en tabletrekenaars beskikbaar om intyds te bestudeer en word op ‘n sentrale databasis geberg om later na te gaan en selfs met ander spelers se afslaanpatrone te vergelyk.

FlightScope-tegnologie stel afrigters in staat om spelers se spel doelgerig te verbeter, toerusting-spesialiste om individuele spelers se gholftoerusting spesifiek by hul styl aan te pas, en vervaardigers soos TaylorMade – waarskynlik die wêreld se grootste vervaardiger van gholftoerusting – om hul produkte volgens die reële data wat FlightScope bied, wetenskaplik te ontwikkel. Later vandeesmaand gaan FlightScope-toerusting ook tydens TV-uitsendings van die 2015 VSA Ope-gholftoernooi gebruik word.

“Ons voer meer as 95% van ons produkte uit,” sê Johnson. “Hierdeur neem ons ‘n handelsmerk en innoverende tegnologie vanuit Suid-Afrika die wêreld in na markte wat telkens verstom staan oor Suid-Afrikaners se  vindingrykheid en die gehalte produkte wat hier vervaardig word.”

En wanneer ek luister hoe Johnson byna op ‘n terloopse manier FlightScope se suksesverhaal verwoord, kom ek weer onder die indruk van ons land se vermoë om innoverende produkte te ontwikkel en dit internasionaal so aan te bied, dat dit die wêreld se respek afdwing.   

Einde

Klik hier http://bit.ly/1GhEycl om die artikel op die Eikestadnuus se webblad te lees.