‘N HAARSALON OOK VIR DIE KLEINKINDERS

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor ouer, familie-georiënteerde besighede in Stellenbosch wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

Op die salon se venster is geskilder Hair by Eyroll. “Eintlik wou ek net Eyroll gehad het,” sê Eyroll Theunissen, eienaar van díe haarsalon. “Maar die letterskilder het anders besluit.”

Eyroll het in 1958 in die haarsalon-bedryf begin werk en kwalifiseer ‘n paar jaar later as haarstilis. In 1973 open hy sy eie salon in Andringastraat in Stellenbosch en verskuif die besigheid in 1974 na die huidige perseel in Pleinstraat. Hy en Alta, ook ‘n haarstilis, trou in 1976 en saam begin hulle om die besigheid verder uit te bou.

Eyroll is trots daarop dat hy op ouderdom 72 steeds aktief in die salon werk en dat hy sy eie klante het wat verkies dat slegs hy hulle hare versorg.

“Ek en Alta is waarskynlik die mees gevestigde haarstiliste in Stellenbosch. Ons sou dit nie na 41 jaar kon wees as ons nie gereeld vir opknappingskursusse en seminare gegaan het om op datum te bly met die jongste modes, haarstyle en haarprodukte nie,” sê Eyroll.

Volgens hom is dit opwindend om met vandag se moderne haarprodukte te werk. Die omvattende reekse maak dit moontlik om klante se hare op die mees professionele maniere te behandel en te versorg.

Eyroll en Alta is besonder trots op en geheg aan hulle personeel – Emily, Lydia, Chelay en Monique. Van hulle werk al langer as 20 jaar in die salon.

“Wat was vir jou spesiaal oor die jare heen?” vra ek. “Om my klante persoonlik te verwelkom, om lekker met hulle te gesels en te weet dat hulle my mening en advies vertrou,” antwoord Eyroll. “En die feit dat ek nie ‘n geskinner in my salon toelaat nie, is ‘n bonus,” voeg hy laggend by.

Die feit dat hy en Alta vertrou word, is duidelik wanneer hulle verwys na klante wat selfs van omliggende dorpe kom om hul hare hier te laat versorg. “Nie net dit nie,” voeg Eyroll by. “Ons het klante wie se kinders en kleinkinders nou al na ons toe kom.”

Mense raak geheg aan hul haarkappers. Dit was duidelik terwyl ek klante in die salon dopgehou het. Hulle was ontspanne en gemaklik. Hoe dan anders? Eyroll, Alta en hul personeel bied meer as net ‘n haarsalon. Hier het klante ‘n tuiste waarheen hulle keer op keer terugkom. En Hair by Eyroll op die vertoonvenster bevestig dat die eienaar en adres, soos die afgelope 41 jaar, steeds dieselfde is.

Einde