JAMES STARKE – ‘N GROTE ONDER DIE GROTES  

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

In sy boek Die groot rugbygesin van die Maties skryf wyle dr. Danie Craven: “James Starke is een van die grootstes van die grotes wat hier op Stellenbosch was. Hy het gehelp om hierdie klub (Maties) uit die moeras waarin ons was, uit te sleep, en die prestasies wat daarna behaal is, moet in ‘n groot mate aan hom toegeskryf word. Vir my was hy een van die mees uitstaande rugbykapteins van alle tye.”

Starke, wat slot en flank gespeel het, was kaptein van die Matiespan van 1953 tot die vroeë 1960’s. Benewens dit voer hy, onder andere, die Suidelike Universiteitespan aan teen die destydse Rhodesië, die Wallabies, All Blacks, Brittanje, Frankryk en Italië. Hy speel vir WP (later ook spanbestuurder en voorsitter van die keurkomitee) en as Springbok teen Nieu-Seeland.

‘n Hoogtepunt vir Starke was die Suidelike Universiteite se toer in 1955 na Italië, Frankryk en Brittanje toe die span per skip via Oos-Afrika en die Suezkanaal na Venesië gevaar het. Hy vertel hoedat die Italiaanse skeidsregters, tot sy frustrasie, herhaaldelik ‘n volle twee minute vir ‘n besering toegelaat het, en hoedat hul groot wedstryd teen die Gekombineerde Universiteite in Engeland afgestel is omdat die veld geys was.

As kaptein was dit vir Starke belangrik om spansamehorigheid te verseker. Hy lag wanneer hy na homself as ‘n amateursielkundige verwys wat reggekry het om die manne saam te snoer. Terselfdertyd het hy waardering vir die samehorigheid wat vandag steeds onder spelers van sy era en daarna bestaan en die wyse waarop ou vriendskappe gedy.

Starke se grootste teleurstelling was toe hy, ná die Suidelike Universiteite se suksesvolle toer na Europa, nie vir die Springboktoer na Australië en Nieu-Seeland in 1956 gekies is nie, hoewel hy tog later by die toer as plaasvervanger aangesluit het. Wat verder tot die teleurstelling bygedra het, was die feit dat die media selfs ‘n verwagting geskep het dat hy as kaptein van die toerspan gekies sou word.

In 1958 ontvang Starke ‘n Rotariër-beurs vir studies in Amerika. Hy gryp die geleentheid aan, wetende dat die meer as twee rugbyseisoene wat hy sou mis, die einde van sy rugbyloopbaan kon beteken. Na sy terugkeer speel hy Springbokproewe in Bloemfontein, maar raak beseer in die eerste wedstryd.

Met ‘n MSc-graad in landbou het Starke sy loopbaan aanvanklik by die destydse departement van landbou begin. Hy werk later vir Rembrandt onderskeidelik as reklamebestuurder en produkbestuurder. Met die totstandkoming van die SA Brandewynstigting, is hy as direkteur van hierdie liggaam aangestel.

Hoe bring ‘n mens hulde aan iemand na wie Dok Craven as een van die mees uitstaande rugbykapteins van alle tye verwys het? ‘n Oorkonde wat medespelers tydens die James Starke-rugbyreünie in 2011 met sy tagtigste verjaarsdag aan hom oorhandig het, doen juis dit, veral wanneer dit afsluit met dié woorde: “Ons het die voorreg gehad om dr. Danie Craven se fenomenale rugbykennis te beleef, en laaste, maar nie die minste nie, ons het saam met en onder die kapteinskap van James Starke vir die Maties se eerstespan kon speel.”