JAN BOLAND COETZEE - DIE MAN WAT DINGE ANDERS DOEN

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Vir my was presiesheid, geduld en trots die drie gemene delers in my rugby- en wynmakerloopbane. Ek het nog altyd geglo dat ‘n mens moet beplan voordat jy iets aanpak, en dat jy die plan dan met presiesheid en geduld moet uitvoer.”

So sê Jan Boland Coetzee, bekende Stellenbosse wynmaker en Springbokflank van 1974-’76. Met ‘n Matie-rugbyverbintenis van meer as 50 jaar, het hy die voorreg gehad om onder andere onder wyle dr. Danie Craven baie van rugby te leer. Hy vertel hoedat hulle wedstryde gewen het deur Dok se besondere vermoë om die teenstanders te ontleed en ‘n wedstrydplan op hul sterk of swak punte te baseer. “Maar so ‘n plan vereis fyn tydsberekening tydens die spel. En dit is waar geduld inkom,” sê Coetzee.

Dinge is destyds anders as vandag gedoen. Coetzee moes maar self tyd vir rugby en vir sy werk as wynmaker inruim. “Die begin van die seisoen was erg,” sê hy. “My dag het soggens om vieruur in die wingerde begin en is saans laat afgesluit wanneer ek, ná rugby-oefening, nog kelderwerk ook gedoen het.” Hy lag wanneer hy vertel hoedat Oom Boy Louw in 1925 ‘n halfkroon per dag as rugbytoelaag ontvang het en hoedat hulle in 1975 steeds met dieselfde 25c per dag tevrede moes wees.

Coetzee onthou bekende manne wanneer hy oor sy afrigters uitgevra word. Oom Hennie Muller, John Gainsford en Oom Boy Louw, almal amateurspelers – en almal met hul eie eienaardighede – wat later afrigters geword het. Oom Boy Louw was byvoorbeeld daarvoor bekend dat hy as skeidsregter eerder gestap as gehardloop het. Ongeag waar ‘n fout begaan was, die spel het weer begin daar waar Oom Boy op daardie oomblik op die veld was.

Anders as in sy tyd toe losvoorspelers groot manne was, was Coetzee as flank kleiner gebou. “Ek was ook nie so vinning nie. Dit het veroorsaak dat ek op ander aspekte van die spel gefokus het om my deel te doen. Omdat dit vir my in rugby gewerk het, het ek dieselfde beginsel in my loopbaan as wynmaker en boer suksesvol begin toepas. Ek het dinge nog altyd op ander maniere gedoen. En dit het gewerk.”

Coetzee glo dat erkenning en respek die twee mees bevredigende tekens van waardering is wat ‘n mens kan ontvang, maar ook vir ander kan gee. “Maar jy moet dit verdien,” sê hy. “Daar bestaan nie ‘n respek-tou waarin jy kan staan om jou deel te ontvang nie.” Vir hom gaan menswees en die verantwoordelikheid teenoor ander hand aan hand: “Een mens kan nie die wêreld verander nie, maar een mens kan die wêreld vir ‘n ander mens verander.” Die landbouer in hom kom na vore wanneer hy uitwys dat ‘n mens meer in die lewe moet insit as wat jy uithaal, en die waardes van ‘n toegwyde sportman slaan deur toe hy byvoeg: “Speel en geniet die spel van die lewe, maar help ander ná jou om dit ook te kan doen. Dít is waarin ons beloning lê.”