JOEP LOOTS – SPORTMAN, AFRIGTER, MENTOR

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Daar is baie myle tussen om iets te sê en om dit te doen.”  In een sin en met die klem op die dóén, som Joep Loots – Springbok-tienkampatleet vanaf 1982 tot 1984 – op wat die rede vir sy sukses as sportman was, en vandag steeds is. 

Joep was reeds in atletiekkringe bekend voordat hy in 1979 by die Matie-atletiekklub aangesluit het. Op Stellenbosch maak hy buitengewone vordering en in 1980 wen hy die SA titel met ‘n nuwe SA tienkamprekord. In 1982 stel hy drie Suid-Afrikaanse tienkamprekords op, verwerf Springbokkleure en word aangewys as die WP se beste atleet. Hy behou sy SA titel in 1983, stel sy vyfde nasionale rekord in tienkamp op, verwerf weer Springbokkleure en word aangewys as Maties se Sportman van die Jaar. In 1984 ontvang hy weer eens Springbokkleure en hy behou sy SA titel, maar kondig sy uittrede weens ‘n rugbesering aan. 

In 1983 word Joep voltyds as atletiekafrigter by die Universiteit Stellenbosch aangestel en later as hoofafrigter verantwoordelik vir atletiek – ‘n pos wat hy tot in 2008 beklee het. Deesdae is hy ‘n leefstylafrigter wat holisties na gesondheid en oefening kyk.

Oor die redes vir sy sukses as atleet, is Joep se antwoord onomwonde: “Ek het ‘n wil om te om te wen!” Hy rig egter ‘n waarskuwing: “Om te kan wen is sportdeelnemers meesal egosentries ingestel, en dit is reg so. Arrogansie moet egter nooit selfvertroue en die wil om te wen vervang nie.”

Joep heg groot waarde aan die sielkundige voorbereiding van sportdeelnemers. “Hierdie wetenskap het nie in die 1980’s bestaan nie. Ek het egter besef dat voorbereiding vir byeenkomste meer as net fisieke gereedheid vereis en het baie oor emosionele voorbereiding gelees en dit toegepas. Dit was veral belangrik in ‘n multi-dissiplinêre sport soos tienkamp, waar ‘n mislukking in een faset nie die volgende durf beïnvloed nie.” 

Aangesien hy voortdurend goed presteer het, is Joep weinig tydens sy sportloopbaan gekritiseer. As afrigter was dit egter anders en het veral sportskrywers by tye iets oor hom te sê gehad – gewoonlik ongegrond, volgens Joep. Hy het by geleentheid ‘n sportskrywer wat krities was oor die paalspringatleet Okkert Brits wat hy afgerig het, na die veld ontbied. Sy praktiese verduideliking van die kompleksiteit van paalspring as sport het tot nuwe insig en realistiese verslaggewing daarna gelei!

Oor sy ervaring om as sportman in die kalklig te wees, sê Joep dat sportpresteerders destyds nie naasteby aan dieselfde druk as vandag se sportlui blootgestel was nie. “Ek het probeer om nederig te bly,” sê hy. “En in elk geval is jou prestasie nie verby na afloop van die laaste byeenkoms nie. Jy begin maar net weer voorberei vir die volgende.”

Oor ‘n boodskap vir vandag se opkomende sportlui kon Joep oor deursettingsvermoë, passie, toewyding en talle ander eienskappe waaroor hierdie veelsydige man beskik, gesels. “Om ‘n lewe van liefde en dankbaarheid te leef,” was egter die antwoord. “Niks kom ons toe nie. Geniet dit wat jy het … en wees lief en dankbaar daarvoor.”