JOHAN FOURIE - KONING VAN DIE DROOMMYL

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Ek het die opwinding wat volgepakte stadions bring, geniet. Die inspirasie daarvan het daartoe bygedra dat ek twee opeenvolgende droommyle binne die bestek van een uur tydens ‘n byeenkoms in 1987 kon hardloop.” 

Johan Fourie, oud-Springbok middelafstandatleet, het 53 droommyle op sy kerfstok met ‘n beste tyd van 3:50:82. Met 3:33:87 as sy beste tyd in die 1500 m tydens die SA Kampioenskappe in 1987, was dit ook die wêreld se vinnigste tyd oor hierdie afstand kort voor die wêreldkampioenskappe in Rome daardie jaar, en bykans drie sekondes vinniger as die wentyd tydens dié wêreldbyeenkoms. Sportsanksies teen Suid-Afrika het egter verhoed dat Fourie internasionaal kon deelneem en erkenning kry.

Fourie skryf sy sukses in atletiek toe aan die feit dat hy sy pyndrempel tydens oefening en kompetisies kon oorsteek. “Ek het my eie gedagtes as my grootste vyand geïdentifiseer en pyn was my beste vriend. Ek het besef hoe meer pyn ek kon verduur, hoe vinniger die tyd wat ek kon hardloop. Ek het die pyngedagtes wat my wou laat ingee uit my gedagtegang verwyder deur dit herhaaldelik op te roep en met nuwe, positiewe gedagtes te vervang. Sodoende kon ek die negatiewe denke heeltemal uitwis en bo die grense wat my verstand gestel het, presteer.” 

Dit kom effens onverwags wanneer Fourie vertel dat hy as atleet aanvanklik ‘n introvert was. “Ek was vol vrese en huiwerig om vreemde mense te nader”.  Sy bekendheid het egter daarvoor opgemaak en mense het hóm genader!  Hy het aanvanklik ook gesukkel om nee te sê vir uitnodigings na funksies en vir maatskappye om hulle produkte te borg.  Hy het egter gou geleer dat dit belangrik was om nie almal tevrede te wil stel nie.

Oor afrigting is Fourie se kommentaar eenvoudig: “Glo in jou afrigter!” Hy verwys met waardering na Steve Rautenbach, sy afrigter oor ‘n tydperk van 17 jaar, as sy tweede pa. “Ons het elke dag ure saam deurgebring. Hy was die één persoon wat my drome met my gedeel het.”   

Fourie en sy vrou, Marinda, rig tans `n groep middelafstandatlete – bekend as die Dogsquad – af. Hy het `n nuwe benadering oor sportdeelname as toe hy self `n atleet was. Dit behels `n driedimensionele uitkyk met verwysing na liggaam, siel en gees. Hierdie benadering behels dat alle vrese en bekommernisse oorwin kan word sodat deelname in ‘n toestand van totale vrede wat die verstand te bowe gaan, kan plaasvind. Sodoende kan grense oorskry word en word die onmoontlike, moontlik.  Atlete in sy groep kan kies of hulle hierdie benadering wil volg, al dan nie.

Fourie beklemtoon dat dit alles afhang op wie jou fokus is. “Indien jy deelneem om jouself te verheerlik, is jou gegewe talent jou plafon.  Kies jy egter om God daarmee te verheerlik, word jou talent jou platform en bestaan daar nie meer ‘n plafon nie.” 

En hierdie benadering onderstreep sy boodskap aan opkomende sportlui en mense in die algemeen vandag: “Hoe groter jou opoffering, hoe groter die beloning.”