Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Atletiekdeelname is soos ‘n mens se lewe, net ‘n korter weergawe daarvan. Dit omvat dieselfde paaie, hoogte- en laagtepunte, selfs dieselfde lewenslesse. Atletiek het my geleer om prestasie in konteks te sien en my voorberei vir my lewe daarna, vir ‘n groter roeping wat op my gewag het.”

Marinda Fourie, Springbok 400 m-atleet met ‘n persoonlike beste tyd van 52.94 sekondes, se atletiekloopbaan het in die 1980’s begin toe Suid-Afrika op sportgebied geïsoleer was en in 1998 – ongeveer  ses jaar nadat Suid-Afrika weer tot internasionale sportdeelname toegelaat is – geëindig. Sy kon dus in 1992 internasionaal aan die Unity Games in Dakar deelneem waar sy derde in die 400 m geëindig het, aan Afrika-kampioenskappe wat daarop gevolg het, asook aan verskeie Europese byeenkomste.

Fourie is realisties oor die dinge wat sy as atleet anders sou kon doen. “Vrees, verkeerdelik, was my dryfveer tydens kompetisies. Ek was bang dat ek nie goed genoeg gaan wees nie en was daarom harder op myself. As ek dit kon oordoen, sou ek ‘n driedimensionele benadering gevolg het. Dit beteken dat ek my liggaam, siel en gees in harmonie sou bring ten einde my vrese te oorwin en my toe te laat om dit wat my verstand vir my gesê het onmoontlik was, moontlik te maak. Ek sou my talent gebruik om op te bou, eerder as om myself onnodiglik onder druk te plaas. Tewens, ek sou nie vir myself gehardloop het nie, maar vir Jesus,” sê Fourie.

Tog glo Fourie dat hierdie eertyds ‘verkeerde benadering’ juis dit was wat haar voorberei het vir die veel belangriker rol wat sy deesdae steeds op die atletiekbaan as afrigter in die lewens van jong atlete speel. Sy en haar man, oud-Springbok middelafstandatleet Johan Fourie, rig `n groep middelafstandatlete – bekend as The Dogsquad – af. Hulle leer atlete juis die driedimensionele benadering waarna sy verwys het wat, volgens haar, toelaat dat atlete hul prestasie-grense kan oorskry. Atlete in die groep kan kies of hulle hierdie benadering wil volg, al dan nie.

Fourie beklemtoon die belangrikheid van dit waarop ‘n atleet fokus. “Indien jy deelneem om jouself te verheerlik, is jou gegewe talent jou plafon.  Kies jy egter om God daarmee te verheerlik, word jou talent jou platform en bestaan daar nie meer ‘n plafon nie.” 

Baie dinge maak Fourie se hart bly – onder meer om vir Jesus te werk, om jongmense te help om hul vrese in en buite sport te oorwin, haar gesin, en die feit dat sy haar eertydse atletiektalent nou, bykans 20 jaar later, steeds kan uitleef deur haar betrokkenheid by atletiekafrigting.

Fourie waarsku jong sportlui dat ‘n sporttalent, indien dit verkeerd hanteer word, vernietigend kan wees. “Deur dit egter positief te benader, sal dit nie net jou prestasie op die sportveld verbeter nie, maar sal jy selfs ander se lewens op ‘n positiewe wyse daardeur aanraak,” voeg sy by.

En komende van haar wat ervaring van beide het, is dit inderdaad ‘n boodskap om van kennis te neem.