TEGNOLOGIE VIR AFRIKA

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Behalwe vir Suider-Afrika, word daar weinig rekenaars in die res van Afrika gebruik. Dié kontinent het egter bykans 800 miljoen selfoongebruikers,” sê Jacques de Vos van Mezzanine in die Stellenbosse Tegnopark.

Volgens hom beskik veral landelike gebiede in Afrika, behalwe vir selfoonnetwerke, oor weinig ander infrastruktuur. By gebrek aan rekenaarstelsels is selfoontegnologie dus die enigste wat gebruik kan word om stelsels te bedryf wat ekonomiese en ander groei kan ondersteun.

Mezzanine gebruik selfoontegnologie om mobiele stelsels te ontwikkel wat vir Afrika werk. Dit sluit, onder meer, logistieke, landbou en gesondheidsorgvelde in. Hulle ontwikkel die stelsels vir kliënte wat sake-, humanitêre- en diensgeoriënteerde belange in Afrika-lande het.

Volgens De Vos is die besigheidsmodel in Afrika-lande hoofsaaklik dié van kleinsake-entrepreneurs. Hierdie besighede benodig elektroniese stelsels wat aan hulle eiesoortige behoeftes voldoen. Byvoorbeeld, anders as in ander wêrelddele waar voorraad in grootmaat bestel word, sal ‘n winkelier in landelike Afrika byvoorbeeld net enkele items op ‘n keer van sy verskaffer bestel. Die selfoonstelsel wat hy en sy verskaffer hiervoor gebruik, moet die transaksie asook die verwante betalings moontlik maak.

Aangesien min slimfone in gebruik is, ontwikkel Mezzanine hul stelsels om ook op vorige generasie selfone te werk. Hulle produk laat gebruikers toe om funksies op hul selfone te kies en die resultate op die selfoonskerm of deur middel van teksboodskappe te kry. Die beskikbare funksies word volgens die kliënt en gebruiker se behoeftes ontwikkel. So byvoorbeeld kan ‘n groothandelaar in Europa landbouprodukte deur middel van hierdie tegnologie by ‘n kleinboer in Afrika bestel. Ook kan die groothandelaar ondersteuning aan die boer bied deur byvoorbeeld inligting oor produksiemetodes en weervoorspellings te verskaf en sodoende kwaliteitbeheer uitoefen oor die produk wat hy gaan ontvang. Dit vestig ook ‘n vennootskap wat tot beter produksiemetodes en verhoogde inkomste vir die produsent lei.

“Dit is duidelik dat mense se lewensgehalte en omstandighede positief verander het sedert ons tot hierdie mark toegetree het,” sê De Vos. “Ons volgende stap is om mobiele humanitêre stelsels te ontwikkel wat onderwys en gesondheidsdienste ondersteun.”

‘n Vennootskap tussen ‘n Europese groothandelaar en ‘n kleinboer êrens in Afrika klink vergesog. Tog is dit ‘n werklikheid omdat ‘n maatskappy in Stellenbosch wat die kontinent se behoeftes verstaan, dit vir hulle moontlik maak. En dan verstaan ‘n mens hoekom Mezzanine ‘n voorkeurdiensverskaffer is. Nie net werk hulle stelsels vir Afrika nie, maar hulle maak ‘n verskil in die lewens van die kontinent se mense.

Einde

Klik hier http://bit.ly/1HmtlK4 om die artikel op die Eikestadnuus se webblad te lees.