SUIWER NOTE VIR BYKANS 60 JAAR

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor ouer, familie-georiënteerde besighede in Stellenbosch wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

‘n Mens betree ‘n ander wêreld wanneer jy instap. Die plafonne is doér bo, die hoë mure het vloeiende kurwes. Die interessante argitektuur maak dat jy meer wil sien. Êrens speel iemand op ‘n klavier. Binne-ontwerp en die suiwer musieknote integreer en skep ‘n verkwiklike ervaring.

Wofgang Heuer (snr) begin in 1955 ‘n besigheid in Stellenbosch om klaviere te stem en te herstel. Hy werk aanvanklik van sy huis af en reis wyd om sy diens te lewer. Sy eerste besigheidsperseel deel hy met met ‘n wassery.

Trekklaviere raak gewild en Wolfgang begin dit verkoop. Musikhaus W Heuer groei stelselmatig en verskaf ook stryk- en blaasinstrumente.

Sy seun, Wolfgang (jnr), neem die besigheid in 1985 oor. Hy het sy tegniese opleiding in Duitsland en ook by die Dietmann klavierfabriek hier in Wellington ontvang. Vandag staan Hans en Walter, Wolfgang se broer en seun onderskeidelik, aan die stuur van sake. Musikhaus W Heuer is in die hande van die vyfde geslag in die Heuer-familie.

Wolfgang (snr) het twee drome gehad – ‘n musiekwinkel wat spesialiseer in musiekinstrumente, en dat elke huishouding in sy mark ‘n musiekinstrument moet hê. “Dit is steeds ons strewe,” sê Hans.

Maar wie koop musiekinstrumente? Volgens Hans val die klem op huishoudings. Meer en meer mense koop en bespeel musiekinstrumente deesdae tuis.

En, interessant, daar is die interieur-mark. In plaas van in visuele kuns, belê mense in items soos vleuelklaviere om in hul huise as driedimensionele binne-ontwerp items te dien.

Nog ‘n toevoeging tot die mark is die aanvraag vir DJ toerusting. “Die DJ is nie meer net in nagklubs nie. Mense rig hul deesdae in om tuis ‘n DJ-ervaring met moderne klanke en polsende nagklubeffekte te skep. Tradisioneles stem waarskynlik nie saam nie, maar hierdie toerusting is eintlik moderne musiekinstrumente. Ons hou dit aan,” sê Hans.  

Musikhaus W Heuer verskaf ook toerusting om tuisopname-ateljees teen billike pryse in te rig.

Die besigheid het ‘n groot werkswinkel waar musiekinstrumente herstel word. Hulle bied ook musieklesse aan. Die jongste toevoeging is die “Stellenbosch School of Rock” waar pop-orkeste afgerig word.

Fasinerende besigheid. En hul stylvolle gebou omvat dit alles – ‘n golwende styl wat vloei soos goeie musiek en met ruimtes om toe te laat vir die sagste pianissimo en die hardste fortisimo. Al weet jy niks van musiek nie, gaan loer in. Net die gebou se ontwerp is al genoeg om jou ‘n musiekliefhebber te maak.

Einde