‘n Engel in ons midde toe ons dit die minste verwag het!

My klasonderwyser in Standerd 4 aan Hoërskool Bultfontein daar vêr in die Vrystaat was Meneer Mostert. Hy was ‘n besondere leerkrag wat in die taal van vandag se jongmense waarskynlik as ‘old school’ gereken sou word. Vir hom was die leerling en sy of haar vordering al wat saak gemaak het. (Ja, destyds was ons leerlinge gewees, nie leerders soos vandag nie, en onderwysers nog leerkragte.)

(Volledigheidshalwe moet ek darem byvoeg dat vordering in ‘n groot mate gepaard gegaan het met die kweperlat wat Meneer Mostert by tye uit die kweperboomlaning agter in sy erf saamgebring het skool toe.)

Meneer Mostert was ‘n lang en goed geboude man met ‘n forse voorkoms en ‘n besliste teenwoordigheid. ‘n Kort borselkophaarstyl het hom meer na ‘n professionele rofstoeier as onderwyser laat lyk. Sy kleinerige donkerraambril waaroor hy met sy donker oë na jou gekyk het, het egter die rofstoeierbeeld effens versag. Maar die eindelose geduld wat hy met ons gehad het, het bevestig dat hierdie man die statuur van Meester – soos die oumense gepraat het – in die onderwysberoep waardig was.

Dit was vir Meneer Mostert van uiterste belang dat ons vaardig in Engels moes wees. Hy het meer tyd as wat toegelaat was, spandeer om ons te help om hierdie vreemde taal onder die knie te kry. Sy taak is grootliks bemoeilik deur die feit ons op ‘n plattelandse Vrystaatse dorp gewoon het waar Engels maar selde gehoor, wat nog te sê gepraat was! 

Maar ons het het probeer – Meneer Mostert om ons te leer, en ons as klas om dit reg te kry.

Dit was ‘n warm Vrystaatse somersdag toe ons besig was met ‘n spesifieke Engels-mondelingperiode. Elkeen moes ‘n dier in Engels beskryf. Willie Goosen, as my geheue my nie parte speel nie, het oor olifante gepraat. Telkens wanneer hy na ‘elephant’ verwys het, was die uitspraak ‘elliephant’ met die klem op die ‘ie’ klank soos in ‘ellie’.

Meneer Mostert het hom herhaaldelik en geduldig reggehelp.

“Dit is ‘elephant’,” hoor ek hom nog sê. “Elle, elle – nie ellie nie.”

Maar Willie het soos ‘n trein op spoed in sy skrillerige stem voortgestoom om die klas van die ‘elliephants’ te vertel.

Of dit die somerhitte was, of dit naby aan die einde van ‘n lang jaar was, en of dit dalk maar net die besef was dat hy te doen het met iets wat hy nooit sou regkry nie, weet ek nie. Maar toe die volgende ‘elliephant’ deur die klas weergalm, het Meneer Mostert geknak.

Hy het na die venster gedraai, sy lang arm horisontaal gelig en sy wysvinger in die rigting van Tant Ellie van Wyk wie se huis vanuit die klaskamer sigbaar was, gewys. (Dit was voordat die kerksaal gebou was wat veroorsaak het dat die huis nie meer van die skool af sigbaar was nie ...)

“Dáár bly Tant Ellie van Wyk!” het hy met ‘n merkbaar rooi gesig uitgeroep. “Ons praat nie van ‘elliephant’ nie, Goosen, ons praat nie van ‘elliephant’ nie! Dit is ‘ellephant’!”

Ek is nie seker of die res van die klas die desperaatheid van hierdie groot man op daardie oomblik ervaar het soos wat ek dit ervaar het nie. Ek twyfel ook of Tant Ellie van Wyk ooit uitgevind het dat sy die onderwerp van uitroepe was ten einde vir Willie Goosen te leer Engels praat. Wat ek wel weet is dat ek Tant Ellie van Wyk nooit sal vergeet nie, nie net omdat hierdie tenger vroutjie ‘n bekende inwoner van ons dorp was nie, maar omdat sy op ‘n manier die onsigbare engel was wat te voorskyn getree het om Meneer Mostert te hulp te snel toe hy hulp so nodig gehad het!