VSA INDUSTRIE-REUS RAAP TEGNOPARK-MAATSKAPPY OP

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het. 

Inspirerend. Dit is die woord wat iKubu – ‘n klein tegnologie-maatskappy in die Stellenbosse Tegnopark wat onlangs deur Garmin, ‘n Amerikaanse multinasionale korporasie en vervaardiger van navigasietoerusting gekoop is – die beste beskryf.

Franz Struwig, voorheen die besturende direkteur van iKubu en deesdae bekend as Senior Bestuurder Garmin SA, vertel dat die maatskappy in 2006 in Pretoria ontstaan het. Dié klein span ingenieurs het in projekte wat met radar en rekenaarvisie te doen het, begin spesialiseer. iKubu vestig in 2008 in die Stellenbosse Tegnopark waar dit goed met die maatskappy gegaan het.

“Ongeveer drie jaar gelede het ons egter ‘n plafon bereik. En ek was daardie plafon,”sê Franz. Hy het besef dat hy beter toegerus moes wees om die maatskappy verder te vat en het vir ‘n MBA-program by die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool ingeskryf. Tydens dié program het hy besef dat iKubu uit sy gemaksone gehaal moes word. Hy het Knife Capital, ‘n waagkapitaal-groep wat hulp aan opkomende maatskappye verleen, betrek om die regte vrae oor die maatskappy en sy toekoms te vra, hulle in kontak met mentors te bring en te help om groei-areas te identifiseer.

Dit het daartoe gelei dat hul produk, Backtracker – ‘n radar-gebaseerde toestel waarmee fietsryers kan sien wanneer ‘n voertuig hulle van agter nader – teen versnelde tempo ontwikkel is. Die produk was in Junie 2014 markgereed en moes in die mark wees voordat ander maatskappye dalk met soortgelyke tegnologie na vore kom. Die VSA was die mark van keuse en iKubu het befondsing, en veral bemarkingswaarde, vir die industrialisering van Backtracker deur middel van sogenoemde crowd funding of skarefinansiering verkry.

“Voor skarefinansiering is jy ‘n ingenieur,” sê Franz. “Sodra jy daarmee begin, skuif jou fokus na bemarking. Ons as groepie ingenieurs het hierdie, ons nuwe lewe, as ‘n uitdaging gesien en deur middel van ‘n projekplan – soos ingenieurs doen – verseker dat ons gekoördineerd optree.”

As gevolg van hierdie en ander blootstelling wat Backtracker gekry het, het Garmin VSA kort daarna met iKubu begin onderhandel en die maatskappy gekoop.  

“Hier is teksboek lesse te leer,” sê ek vir myself aan die einde van die onderhoud. Hierdie klein onderneming wat binne ses maande deur ‘n multinasionale korporasie opgeraap is, het dinge reg gedoen. Daar was leierskap en die bereidwilligheid om buite hul gemaksone te beweeg. Terselftertyd het hulle getrou gebly aan die beginsels van goeie bestuur, toewyding aan mekaar en aan die kernwaardes waarin hulle glo.

Inspirerend? Ongetwyfeld!    

Einde