JANTJIE MARTHINUS – SUKSES OP DIE BAAN EN DAARNAAS

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Kampioene is mense wat die beste wil wees, wat wíl presteer, wat bereid is om op te offer ... en wat nie vir hul teenstanders bang is nie. So was ek. As mediumafstandatleet was ek ook sielkundig sterk.”

So sê dr. Jantjie Marthinus wat reeds as junior atleet in 1981 onder die vaandel van die South African Amateur Athletic Board (SAAAB) in die 800 m vir mans geseëvier het. Van 1983 tot 1988 verwerf hy elke jaar ‘n verdere SA titel onder die SAAAB en in 1990 en 1991 twee SA titels onderskeidelik onder die South African Amateur Athletic Union (SAAAU) – ‘n totaal van nege SA titels in die 800 m vir mans, met ‘n rekordtyd van 1:46.6.  Met Suid-Afrika se hertoetrede tot internasionale sport in 1992, verwerf hy Springbokkleure en is hy deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan die Unity Games in Dakar en daarna in Johannesburg deelneem. In 2013 word hy deur die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport as sportlegende erken.

‘n Teleurstelling wat Marthinus reeds vroeg verwerk het, is die feit dat hy, as gevolg van Suid-Afrika se sportisolasie, vir die grootste deel van sy atletiekloopbaan nie internasionaal kon deelneem nie. Hy glo dat hy destyds goed genoeg was om vir die Olimpiese Spele te kon kwalifiseer. Dit was hom egter nie beskore nie. Selfs toe Suid-Afrika tot internasionale sport teruggekeer het, was hy nie deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan die 1992 Olimpiese Spele deelgeneem het nie. Volgens hom was dit as gevolg van die vereistes vir die samestelling van die span. “Maar ek het nie berou daaroor nie. Wat ek in atletiek bereik het en hoe dit my as mens gevorm het, maak meer as op daarvoor.”

Marthinus se atletiekloopbaan het grootliks met sy studies – aanvanklik voltyds, later deeltyds – saamgeval. “Ek moes ‘n balans tussen my studie- en atletiekaktiwiteite handhaaf. Dit was moeilik, maar dit het my gedissiplineerd gemaak.”

Indien hy vandag van voor af kon begin, sou hy sy styl van destyds om in die bondel te hardloop en vir die wegbreekoomblik te wag, verander. “Ek sou die voortou vroeër neem om die wedloop te beheer en die sielkundige voordeel daarvan te geniet.” En Marthinus weet dat hy hiermee suksesvol sou wees aangesien hy tydens kompetisies gereeld vinniger as sy oefengroeplede was, anders as wanneer hulle vooraf saam geoefen het.

Dit was vir Marthinus belangrik om op die regte tyd uit te tree. Hy het dit gedoen toe hy op die kruin van sy atletiekloopbaan was ten einde ‘n sinvolle oorgang vanaf atletiek na sy loopbaan in die onderwys te maak.

Volgens Marthinus bestaan die komponente van ‘n 800 m-wedloop uit krag, spoed, tegniek en die vermoë om taktiese besluite te neem. “Maar om die tegnieke van jou sportsoort te bemeester, is maar net ‘n deel van jou suksesresep. Voeg daarby respek vir jou teenstanders, waardering vir diegene wat jou ondersteun en, boweal, harde werk om jou droom te bewaarheid.” Dít is Marthinus se boodskap vir jong atlete vandag.