Tant Annatjie se Winkel

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor ouer, familie-georiënteerde besighede in Stellenbosch wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Grappig winkeltjie!”Die Nederlander se inskrywing in die besoekersboek is uniek soos die duisende ander besoekers s’n. Hulle kom van vêr. Londen, Verona, Chicago. Ook van naby. Strand, Goodwood.

“Schattig! Awesome!” Dit hou net aan.

Oom Samie se Winkel bestaan reeds sedert 1904. Die eerste eienaar was Samuel Johannes Volsteedt, oftewel Samie. Amptelik was die winkel se naam SJ Volsteedt – Algemene Handelaar. In die volksmond, Oom Samie se Winkel.

Tot in 1981 toe Annatjie Melck die winkel koop. Sy kies ‘n naam vir haar kleinood. Dit word toe amptelik Oom Samie se Winkel en Annatjie vestig meer as net ‘n negosiewinkel – sy skep ‘n werkende museum.

Die woord fenomeen kom onwillekeurig by my op wanneer ek my vergaap aan die inhoud van die winkel. Alles is net meer en interessanter as toentertyd se algemene handelaars. Selfs die gekookte afval en gebakte skaapkop wat Stellenbossers hier koop. As die konsep destyds bekend was, sou Annatjie se winkel waarskynlik ‘n “hiper” algemene handelaar gewees het.    

Wat is Annatjie se besigheidsmodel? “Oom Samie se Winkel is deel van my. Ek bedryf dit omdat ek dit wil doen,” sê sy. “Dit is terapie. Ek skep voortdurend nuwe dinge om dit meer interessant te maak. En ek glo ons beteken iets, want ons verskaf werk.”

En die toerisme-waarde van die winkel? “Die stroom is nimmereindigend. Ons sal baie meer geld maak as ons toegang vra eerder as om te verkoop,” korswel Annatjie.

Ek vra nie oor haar bemarkingsplan nie. Ek weet sommer dit bestaan nie. G’n webblad. Tog stapels koerantuitknipels, selfs een waar die winkel prominent bo-aan ‘n artikel in The Wall Street Journal van 1 Mei 2010 pryk. Hoekom nog bemark as die bestemming homself bemark? Bemarkers kan hier kom leer.

Ek het verwag om ‘n uitgeslape besigheidsvrou te ontmoet wat deur markontledings en bemarkingstrategieë ‘n vertoonvenster-besigheid skep om toeriste te lok om geld te maak. En wat het ek gekry? ‘n Opregte mens wat ‘n besigheid waarin sy glo, vanuit die diepte van haar hart bedryf – iemand met ‘n waardestelsel wat nog doen wat haar hand vind om te doen, en wat net soveel vir haar personeel omgee as vir dié naaste aan haar.

Iemand uit ‘n generasie wat waarskynlik minder skryf en meer op Facebook “like”, skryf in die besoekersboek: “Super cool!”

En in my gedagtes voeg ek oor ‘n spesiale mens by: “Groot respek, Annatjie. Jy’s meer as cool. Jy’s super cool!”  

Einde