HULLE BRING KLEUR IN ONS LEWENS

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor ouer, familie-georiënteerde besighede in Stellenbosch wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

Wanneer jy instap is hy daar, die eerste om jou te groet.

Pierre du Preez van OranjeBlanjeBlou is nie maar net ‘n deel van die besigheid nie, hy verpersoonlik dit – beskikbaar, georganiseerd, kundig en persoonlike diens.

Pierre het die besigheid in 1974 by Willem Swart oorgeneem. Voor hom was Mnr Hansen die eienaar. Wanneer die besigheid begin het en wie die vorige eienaars was, is onseker. Die feit dat die naam van die begin af Oranjeblanjeblou was – vernoem na die kleure van die Hollandse vlag – laat mens wonder of die besigheid ontstaan het in die dae toe Kaap nog Hollands was.

“Ons spesialiseer in u verfprobleme,” was Mnr Hansen se leuse vir die besigheid. “Dit is vandag steeds so,” sê Pierre. “Ons spesialiseer in verf. Daarmee saam verskaf ons ook hardeware.”

Daar is ‘n reëlmaat, ‘n presisie in bedrywighede op die winkelvloer. Dinge gebeur gemaklik, asof gedirigeer deur ‘n onsigbare dirigent. Klante word op die naam gegroet. Antwoorde op hul vrae word met rustige reëlmaat aangebied. Die span ondersteun mekaar en funksioneer soos ‘n geoliede masjien. Almal word met dieselfde mate van respek behandel. Hierdie winkel het ‘n persoonlikheid, tref dit my terwyl ek die onderhoud met Pierre voer.

Pierre onthou die name van bekendes wat gedurende die afgelope 40 jaar by hom gekoop het. Die dorpenaars – Prof JC de Wet, skoolhoof Mnr Hector, die statige Mnr Cupido – en die boere – Piet Carinus, Frans Malan en baie ander.

Hoogtepunte? Die besigheid was onlangs onder die top 10 in die Wes-Kaap wat verkope van ‘n sekere produk betref. Maar vir Pierre is elke dag ‘n hoogtepunt want hy kan sy klante bedien en deel van sy gemeenskap wees.

Nou, na 40 jaar, het dit tyd vir Pierre geword om af te skaal. Sy vennoot, André Cilliers wat reeds 20 jaar saam met hom werk, neem die leisels oor. “Ek sal steeds betrokke wees, meer agter die skerms,” sê Pierre.

Hoe gebeur dit dat ‘n besigheid so seepglad werk? Is daar dalk rêrig ‘n onsigbare dirigent? Die antwoord is ja! Daar is so ‘n persoon. Hy is iemand met ‘n magdom produk- en mensekennis, diensingesteldheid, ‘n sin vir orde, respek vir sy medemens en ‘n fisieke teenwoordigheid. Hy het OranjeBlanjeBlou oor ‘n tydperk van 40 jaar opgebou na ‘n hardewarewinkel met ‘n persoonlikheid.

Van nou af sal André ons by die deur groet. Maar die besigheid en Pierre se droom leef voort.

Einde