‘N MAATSKAPPY WAT SY ETIEK NA WAARDE AG

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Ons ontwikkel en ondersteun komplekse webblaaie,” sê Herman du Toit van die innovasiemaatskappy Partner in die Stellenbosse Tegnopark. “Met ons internetgebaseerde tegnologie het ons die vermoë om innoverende dienste wat nog nie voorheen in Afrika, en dalk selfs in die wêreld, beskikbaar is nie te bied.”

Anders as baie ander tegnologiemaatskappye, ontwikkel Partner nie telkens nuwe sagteware vir kliënte nie. Met die maatskappy se bewese POP-sagteware wat as handelsmerk geregistreer is, word verskillende voorafontwikkelde komponente van hierdie sagtewarereeks soos ‘n legkaart gekoppel om daardeur ‘n verskeidenheid internetfunksies te bied. Hierdie funksionaliteit verseker die buigsaamheid om sagteware-oplossings vlugvoetig en bekostigbaar te implementer.

Met sekere Partner sagteware-komponente  kan, byvoorbeeld, die interdepartementele werkvloei op ‘n maatskappy se intranet bestuur word. Ander komponente bied weer aan korporatiewe instansies die vermoë om relatief onbenutte  kliënte-databasisse te benut om outomaties elektroniese boodskappe aan kliënte te stuur, byvoorbeeld wanneer premies betaalbaar is.  

Partner bied ook kommersiële sagteware soos icover van Sanlam, ‘n aanlyndiens waardeur begrafnis- en ongeluksdekking sonder papierwerk aanlyn en deur SMS verkry kan word. Met talle kliënte in Afrikalande, is Partner se e-handel sagteware juis ontwikkel om selfoontegnologie wat dikwels die enigste manier is om internettransaksies op die kontinent te doen, te gebruik.

Volgens Du Toit beweeg die maatskappy aan die voorpunt van sagteware-innovering. “Dikwels het ons tegnologie wat vandag as vanselfsprekend aanvaar word, reeds vroeër ontwikkel en geïmplementeer.” Hy skryf Partner se sukses onder meer toe aan hul filosofie om sagteware deeglik te ontwikkel sodat dit die eerste keer werk en oor die langtermyn konstant stabiel funksioneer, en dit te hergebruik.

Du Toit heg groot waarde aan Partner se etiek. “Dit is vir ons belangrik om te kan assosieer met die aard van ons kliënte se besigheid, te verseker dat ons bestaande sagteware die klient se bedryfsprobleem oplos en te ervaar dat dit wat ons doen tegelyk uitdagend en opwindend is.”

Waar besighede dikwels net hul hoëvlak korporatiewe strewes uitsonder, was dit verfrissend om ‘n maatskappy te leer ken wat hul werksetiek eerste stel en wat daarna streef om kliënte só te kies dat daar geen twyfel oor hul gesamentlike sukses kan wees nie. As mens verder die doelgerigte en tog genoeglike atmosfeer in Partner se werkplek ervaar, kan mens nie anders as om respek te kry vir ‘n onderneming wat nie net besondere tegnologieprodukte bied nie, maar ook vertroue inboesem deur die wyse waarop die produkte en diegene wat daarmee werk, aangebied word.

Einde

Klik hier http://bit.ly/1MBxV9e om die artikel op die Eikestadnuus se webblad te lees.