IS DIT WETENSKAP OF IS DIT KUNS?

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Om sagteware vir kliënte te ontwikkel is net soveel kuns as wetenskap,” sê Richard Barry, uitvoerende hoof van Polymorph in die Stellenbosse Tegnopark.

Polymorph ontwikkel toepassings – toeps – wat ‘n integrale deel van hul kliënt se produk vorm en die koppelvlak na die eindgebruiker is. ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n bank se selfoontoep wat gebruikers toelaat om banksake vanaf hul selfone te doen.   

Polymorph raak reeds vroeg by hul kliënte se produkontwikkelingprosesse betrokke. “Dit verseker die beste integrasie tussen die produk en die toep en stel ons in staat om van die begin af innoverend te wees,” sê Barry.

Innoverend is inderdaad die regte woord om Polymorph te beskryf. Omdat ‘n positiewe gebruikerservaring belangrik is, bepaal hulle tydens nuwe projekte eerstens wie die gebruiker gaan wees. Hierdie ontleding wat dalk selfs ‘n element van sielkunde bevat, omskryf die aard van die toep. Behalwe vir ingenieurs en programmeerders wat dan na die tegniese sy omsien, het die maatskappy ook ‘n kreatiewe span ontwerpers met ‘n kreatiewe direkteur wat hulle op die gebruikerservaring van die toep toespits sodat die ontwerp vir die gebruiker ‘n genoeglike en gebruiksvriendelike ervaring bied.

Waar ontwikkelaars dikwels soveel moontlik en selfs minder belangrike funksies in ‘n nuwe toep inbou, is Polymorph se benadering om hoofsaaklik daardie funksies wat die toep funksioneel maak, aan die begin te bied. “Deur aanvanklik net die primêre funksies daar te stel, maak ons seker dat die gebruiker die toep verstaan en dat dit stabiel funksioneer. Eers daarna sal ons addisionele funksies byvoeg,” sê Barry. “Langtermynverhoudings met ons kliënte bied juis die geleentheid om ons produk na bekendstelling verder uit te brei.”

Volgens Barry ontwikkel hulle ‘n toep deur ‘n proses van kleiner en praktiese, maar telkens voltooide, stappe, eerder as om hulle vooraf te verbind aan omvattende en dikwels teoretiese projekbeplanning. Die resultaat is dat die eindproduk stap vir stap en foutloos ontwikkel en van die begin af suksesvol werk.

“Ons grootste passie is mense en tegnologie,” sê Barry. “Wanneer ons hierdie twee kombineer, volg die derde – om mooi en bruikbare toepassings te skep wat aan ons kliënte se vereistes voldoen.” En onderliggend hiertoe is ‘n maatskappy met ‘n bewese produkontwikkelingsfilosofie wat nie net waarde vir hul kliënte toevoeg nie, maar wat veral ‘n aangename gebruikerservaring bied – selfs waar dit nodig was om hul tegniese vermoë met ‘n kreatiewe span uit die kuns- en grafiese wêreld te versterk om dit reg te kry.      

Einde

Klik hier http://bit.ly/1Af5gVD om die artikel op die Eikestadnuus se webwerf te lees