ENIGSTE RADARVERVAARDIGER IN AFRIKA IN STELLENBOSCH GESETEL

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Ons glo in die waardigheid van lewe. Daarom is ons strewe om lewens te red en bates te beskerm deur die onsigbare sigbaar te maak.”

My begrip oor radar – daardie tegnologie wat mense meesal net met die waarneem van nie-sigbare vliegtuie op ‘n radarskerm assosieer – verander ingrypend terwyl ek na Carl Kies, hoof uitvoerende beampte van Reutech Radar Systems in Stellenbosch se Technopark luister.

“Ons maatskappy ontwikkel en vervaardig radarstelsels vir drie markte – verdediging, mynbou en sekuriteit,” sê Carl.

Volgens Carl is hul verdedigingstelsels ontwikkel om op land en op see in ‘n nie-offensiewe rol aangewend te word. Dit wissel van vroeë waarskuwing tydens lugaanvalle in oorlogsituasies tot waarneming om kuslynstroping te bekamp. In die mynboubedryf word Reutech se stelsels gebruik om rotsbewegings te monitor en te voorspel wanneer rotse kan instort om daardeur lewens en bates te beskerm. In die sekuriteitsbedryf bied die maatskappy se stelsels vroeë waarskuwing teen ongemagtigde indringing van persele wat beskerm word.

Daar is ‘n gesegde: “As ‘n maatskappy ‘n radarstelsel kan ontwikkel en bou, kan daardie maatskappy enigiets ontwerp en bou.” Dit word duidelik wanneer Carl die gesofistikeerdheid van sy maatskappy verduidelik. Om ‘n radarstelsel te lewer het Reutech kundigheid in meganiese ontwerp, stelsel-ontwikkeling, elektroniese ontwerp, seinprossesering, sagteware-ontwerp en antenna stelsels, om maar net ‘n paar dissiplines te noem. Ek begin verstaan hoe omvangryk die maatskappy werklik is.

Reutech is ‘n gerekende wêreldklas speler wat, te midde van kompetisie deur internasionale mededingers, reeds radarstelsels op alle wêreldkontinente behalwe Antartika gelewer het. “As relatief klein maatskappy het ons die buigsaamheid en operasioneel-getoetste kundigheid om oplossings wat die groot maatskappye nie het nie, vir ons klante te bied,” sê Carl.

Reutech speel ‘n belangrike rol in Stellenbosch en in die Wes-Kaapse ekonomie. Behalwe om direk werk te verskaf, is daar verskeie instansies, sub-kontrakteurs en verskaffers wat baat deur met die maatskappy saam te werk. Reutech het ook ‘n program waardeur hy opvoeding en opleiding ondersteun. Dit wissel van bystand op skolevlak aan plaaslike skole tot hoëvlak tegniese bewusmakingprogramme en studiebeurse.

“Ons glo in die waardigheid van lewe.” Carl se woorde wat aanvanklik onverwags was, het nou vir my sin gemaak. Hoewel radar-tegnologie steeds vir my ‘n vreemde wêreld bly, het ek dit begin assosieer met ‘n plaaslike maatskappy en wêreld-rolspeler wat tegnologie ontwikkel om omgewings vir mense veiliger te maak en ook sy vermoëns aanwend om selfs op skolevlak, ‘n verskil te maak.   

Einde