ROBBIE BLAIR - VAN KAALVOETSKOPPER TOT SPRINGBOKHELD

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Die jong seun – maar net 11 jaar oud – het met goedgemikte skepskoppe (hy was kaalvoet) die bal uit verskillende hoeke naby die kwartlyn oor die pale geklits. Hy het veral besonder noukeurig met die linkervoet gekorrel maar hy skop natuurlik met die regtervoet ook nie swak nie. Hou hierdie potensiële Springbok dop . . .”

Só is Robbie Blair in die Julie 1964-uitgawe van die Springbok-tydskrif onder die opskrif “‘n Rugby-wonder?” beskryf. Hy trek inderdaad die Springboktrui 13 jaar later aan toe hy as losskakel vir Suid-Afrika tydens die inwyding van Loftus Versfeld teen die Wêreld XV uitdraf. Hy teken 21 punte met sy skopskoen aan tydens die wedstryd wat Suid-Afrika met 45 – 21 wen. Gedurende sy rugbyloopbaan was hy veral bekend vir sy akkurate stelskoppe.

Vir die veelsydige Blair was balsport sy eerste liefde. Sy sportloopbaan begin reeds op skool toe hy eerstespanrugby en –tennis vir Grey Kollege en Nuffield-krieket vir die Vrystaat speel. Na skool fokus hy op rugby en reeds tydens sy eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch in 1972 word hy vir die universiteit se o.20-span gekies. Behalwe vir spanoefeninge, oefen hy gedurende hierdie tyd vier ure per dag ekstra, veral om sy skopwerk af te rond. In 1973 is hy die kaptein van beide Maties o.20 en WP o.20. Van 1974-‘80 speel hy vir WP en van 1981-‘83 vir Transvaal. Na sy terugkeer Stellenbosch toe, word hy in 1984 as reserwe vir WP in die Curriebeker-finaal teen Natal gekies. Toe Goggie van Heerden tydens dié wedstryd beseer word, draf Blair op die veld en speel hy sy 75ste wedstryd vir WP. Hy hang sy rugbystewels in 1985 op.

Blair is dankbaar teenoor sy afrigters – Stoney Steenkamp op skoolvlak, Jannie Krige tydens sy o.20-loopbaan (Blair trou in 1981 met Krige se dogter, Elsabé en hulle het drie kinders) en Dr. Apies du Toit toe hy vir Transvaal gespeel het. Wyle Dr. Danie Craven het ook ‘n groot rol gespeel, nie net as afrigter nie, maar ook as mentor wanneer hulle soggens saam tee gedrink het toe Blair se studenteverblyf naby Dok Craven se kantoor was.

Blair glimlag oor kritiek wat hy gekry het. “Uit die Kaap se koerantgeledere was daar gereeld menings dat ons te veel geskop het en my naam het gereeld in Dave Stewart van die Cape Times se rugbykolom verskyn.” Hoe het hy dit hanteer? “Eers het ek probeer verduidelik. Toe dit nie werk nie, het ek dit maar net geïgnoreer . . . en in my mou gelag wanneer WP telkens weer oorwinnings met strafskoppe behaal het!”

Sy groot teleurstelling was dat sy ma nooit geweet het dat hy ‘n Springbok was nie. Sy is oorlede kort voordat hy vir Suid-Afrika gespeel het. Hy sou graag wou hê dat sy moes weet, dat sy daar moes wees.

En oor ‘n hoogtepunt in sy rugbyloopbaan, is Blair se antwoord eenvoudig: “Daar is niks lekkerder as om ‘n Springboktrui aan te trek nie!”