‘N SUID-AFRIKAANSE KAMPIOENSPAN IN STELLENBOSCH

Hierdie artikel deur Johan du Preez en Roché Compaan is een van ‘n reeks in die plaaslike koerant - Eikestadnuus - oor mense en hul honde waarin honde-eienaars beter begrip vir hul beste vriend kan kry.

 Twee Stellenbosch-inwoners – Roché Compaan en Sumo, sy vierjarige Staffie/Jack Russell-hondjie – is in 2015 tydens die Kennel Union of South Africa (KUSA) se jaarlikse SA Agility-kampioenskapbyeenkoms as die Suid-Afrikaanse kampioenspan in die medium-kategorie aangewys.

 Agility is ‘n wêreldwye sportsoort waarin honde en hul hanteerders ‘n uitgelegde hindernisbaan met die minste of geen foute teen tyd moet voltooi. Tydens kompetisies ervaar die honde nie die baan vooraf nie en reageer slegs op instruksie van hul hanteerders ten einde die hindernisse op die baan in die korrekte volgorde te voltooi. Soos die naam aandui, word die sport deur ratsheid en vlugheid van beide die hond en hanteerder gekenmerk, met ‘n deeglik-opgeleide hond en uitstaande dissipline die grondslag vir sukses.  

 Aanvanklik moet ‘n hond en sy of haar hanteerder tydens ‘n kompetisie drie foutlose rondtes sonder huiwering voltooi om op Graad 1-vlak te kwalifiseer en na Graad 2 deur te dring. Indien hulle hier slaag, dring hulle deur na Graad 3, die hoogste graad tydens die kompetisie. Net die top-sestig honde in Suid-Afrika word na KUSA se jaarlikse SA Agility-kampioenskapbyeenkoms wat oor drie dae strek, uitgenooi.

“Baie geduld, selfdissipline en oefening vorm maar net ‘n klein deel van hierdie sportsoort,” sê Compaan. “Die groter ervaring vir mens en dier terwyl hulle op hierdie manier as ‘n span deel van mekaar word, bring lewensveranderende insig wat veel wyer strek as net deelname aan die sport. Dit het my en my gesin se lewens en ervaringsveld op vele terreine positief beïnvloed en vernuwe.”

 En wat wag volgende? Daar is die geleentheid om vanjaar aan die Europese Ope deel te neem of om in 2017 deel te wees van die South African Dog Agility Association-span wat aan die International Federation of Cynological Sports (IFCS) se wêreldkampioenskapbyeenkoms gaan deelneem. Compaan oorweeg nog hul deelname. Wat sy besluit ook al sal wees, Sumo sit met afwagting gereed om saam te gaan!

 Om Sumo in aksie te sien gaan na https://www.youtube.com/watch?v=-gyKS2_mUWg of soek op YouTube vir 'Sumo SA Champs'.    

  • Wees op die uitkyk vir die opvolgreeks van hierdie artikel oor mense en hul honde wat voortaan in die Eikestadnuus sal verskyn en waarin Roché waardevolle inligting tot voordeel van eienaars en hul honde gaan deel. Volgende week: Wat is 'n hond? – ‘n inleidende artikel oor die agtergrond en geskiedenis van honde en hoe honde unieke kwaliteite ontwikkel het om die mens se beste vriend te word.

Klik hier om die artikel op die Eikesadnuus se webblad te lees.