Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Rugby is nie net ‘n spansport nie, dit is veral ook ‘n impaksport. Dit haal spelers uit hul gemaksones uit. Die span wat die kontak domineer, is die span wat gewoonlik wen, selfs al is hulle die swakker span op papier.”

So sê Tiaan Strauss wat as agtsteman 158 wedstryde vir WP gespeel het (96 hiervan as kaptein), Suid-Afrika as Springbok van 1992-’94 in 15 toetse verteenwoordig het (hy was kaptein tydens die 1994-toets teen Nieu-Seeland), in Australië vir die Cronulla Sharks en die NSW Waratahs gespeel het en, les bes, 13 toetswedstyde vir Australië gespeel het en deel was van die Wallabies-span wat die Rugby Wêreldbeker in 1999 gewen het.

Strauss verduidelik dat ‘n span slegs suksesvol kan wees wanneer die kaptein goeie besluite neem en daarby hou. “As kaptein lei jy deur jou voorbeeld, asook deur die aard van jou spel. Die span verwag van jou om hulle te dra.”

Maar vir Strauss gaan dit oor veel meer. Hy beklemtoon dat rugby ‘n gekompliseerde sport is waar spelers nie maar net fisies kan speel nie, hulle moet ook intensief tydens die spel kan dink. Ter voorbereiding vir wedstryde het hy elke faset van die wedstryd gevisualiseer. “Ek het vooraf reeds die kleinste detail gesien. Dit het beteken dat ek voorbereid was wanneer hierdie dinge gedurende die spel gebeur het.”

En in daardie oomblikke wanneer dinge tydens ‘n wedstryd nie goed gegaan het nie, was dit vir Strauss belangrik om onmiddellik laer te trek om die spelers en haalbare korttermyndoelwitte vir die span te stel. “Deur die fokus in daardie oomblik na die basiese beginsels te verskuif, verlig die druk op die spelers en kan die span deur middel van kleiner suksesse weer selfvertroue herwin en momentum vir prestasie opbou,” sê Strauss.

Strauss glo dat ‘n goeie sportman of –vrou nie net aan hul prestasies gemeet word nie, maar veral aan hoe hulle terugslae hanteer deur op te staan en terug te veg. Tog erken hy vandag glimlaggend hoe skuldig hy gevoel het en vir ‘n paar dae uit die oog probeer bly het nadat sy span verloor het!

Strauss skryf sy sukses onder meer toe aan sy dryfkrag en fiksheid, maar gee veral erkenning aan sy pa wat hom geleer het om dinge ordentlik te doen en nooit tou op te gooi nie. Hy het ook waardering vir die rugbyafrigters wat ‘n verskil in sy lewe gemaak het – Dr. Gerhard Pool, Dawie Swart, Dok Craven en Dawie Snyman.

Strauss se boodskap aan opkomende sportlui is eenvoudig: “Jou sporttalent alleen is nie genoeg nie. Om bo uit te kom, moet jy in jouself glo en hard werk.”

En wanneer hy byvoeg dat terugslae maar net ‘n geleentheid is om as ‘n sterker persoon terug te keer, sien ‘n mens iets van die ware sportman en spankaptein wie se leierseienskappe ‘n groot verskil in plaaslike en wêreldrugby gemaak het – ‘n mens met ‘n aanslag en ‘n teenwoordigheid wat vertroue inboesem en respek afdwing, iemand in wie jy kan glo.