TOE VERLOOR STAFSERSANT JORDAAN MEER AS NET SY HUMEUR

Stafsersant Jordaan was kwaad.

Eintlik was hy meer as kwaad, hy was merkbaar ontstig.

“En julle wil offisiére word!” Hy het soos ʼn profeet geklink wat nie heeltemal geglo het wat hy profeteer nie. “Julle kan nie eens eenvoudige paradegrondopdragte uitvoer nie, wat nog te sê om soos offisiere op te tree!”

Ander mense verhef gewoonlik hul stem wanneer hulle ontsteld is. Staf Jordaan se gewoonlik afgeronde stemtoon het op daardie oomblik egter ʼn ongewone, donker ondertoon gehad. Hy was tot die uiterste gedryf. Ons kon die gespanne atmosfeer met ʼn mes sny.

Nogal onheilspellend . . .

Dit was die jaar 1969. Ek was een van 26 staandemagkandidaatoffisiere wat ʼn jaarlange infanterie-opleidingskursus by Die Leërgimnasium in Heidelberg, Transvaal meegemaak het. Hierdie kursus het die eerste fase van ons offisiersopleiding in die Suid-Afrikaanse Leër behels.

Staf Jordaan was, net soos die ander infanterie-instrukteurs destyds, ʼn trotse, gedissiplineerde en professionele soldaat met buitengewone kennis en vaardighede as instrukteur. Hy was egter ook anders. Sy goeie taalgebruik, persoonlike afronding en gevestigde waardes het respek afgedwing en hom laat uitstaan.

Hy was van gemiddelde liggaamsbou, maar met ʼn ferm, byna forse voorkoms en ʼn besliste teenwoordigheid. Sy fier en regop houding was nog meer merkbaar wanneer hy beweeg het. Hy het so ʼn natuurlike soepelheid en ritme in sy bewegings gehad wat hom op die paradegrond uitgesonder en ʼn beeld van ʼn langafstandatleet met uithouvermoë geskep het wanneer hy laatmiddag op Die Leërgimnasium se opleidingsterrein gaan draf het.

Hierdie netjiese soldaat se snor was iets besonders. Dit het geneig na ʼn weglê snor, maar net soos Jordaan, was die snor in ʼn liga van sy eie – goedversorg en prominent, maar nie oordadig nie. ʼn Mens sou daarna as ʼn genteman’s moustache kon verwys – iets wat deftigheid en status aan die draer verleen en terselfdertyd ʼn statigheid geskep het.

Staf Jordaan het ook as Staf Jorrie bekend gestaan (nie dat ons as kandidaatoffisiere ooit sou waag om hom so aan te spreek nie!). Hy was ook onder die kandidaatoffisiere as Staf Jorriep bekend. Ons het hom so genoem omdat hy die gewoonte gehad het om die letter ‘p’ by baie van sy paradegrondbevele aan te las.

“Kom op parade!” het in sy mond “Kom op paradep!” geword. 

En waar instrukteurs normaalweg “Op die plek rus!” na “Oppie-plek rus!” verander het, was Staf Jorriep se weergawe: “Oppiep-lekrus!”

Namate die opleidingsjaar gevorder het, het ons as kandidaatoffisierepeloton mekaar goed leer ken en soos ʼn geoliede masjien saamgewerk. Dit was veral waar van ons paradegrondwerk. Ons kon uitstekend dril. Ons het selfs tydens ouerdae en ander spoggeleenthede drilvertonings gelewer sonder dat ʼn instrukteur bevele gegee het. Hierdie spookdrilvertonings was indrukwekkend en die resultaat van Staf Jordaan se toegewyde drilafrigting. Hy sou dit nooit erken nie, maar ek dink tog dat hy heimlik trots op ons was.

Tot op daardie noodlottige oggend toe mede-kandidaatoffisier Kobus van Zyl ʼn fout tydens die drilsessie gemaak het. Ons was besig om die skuinsmars-links – ‘n ingewikkelde drilmaneuver – te oefen en Van Zyl se fout het die hele peloton soos in ʼn kettingbotsing teen mekaar laat vasloop.

Miskien was dit tog nie so erg soos Staf Jordaan dit gemaak het nie. Of dalk het iets anders hom gepla en het hy dit daardie dag op ons uitgehaal. Hoe dit ook al sy, Staf Jordaan was meer as net ontsteld oor die fout wat ons as geoefende soldate gemaak het. Hy was buite beheer.

“Afdeling afmarsjeer . . . l-i-i-i-nks om!” was sy bevel nadat die orde in die peloton tot ʼn mate na Van Zyl se fout herstel is.

Ons het nou in drie geledere gestaan en direk na Staf Jordaan gekyk.

“Re-e-e-gs rig!” was die volgende bevel.

Die drie geledere het rondgeskuifel en vinnig in drie reguit rye gestaan soos dit ʼn netjiese peloton betaam.

“O-e-e-ë front!”

Die volgende bevel voordat hy ons begin uittrap het, moes gewees het “Oppiep-lekrus!”. Dit het egter nie gekom nie, want Staf Jordaan het verkies dat ons op aandag staan terwyl hy ons uitskel.

Sy tirade het met ʼn voorbombardement begin wat sommer so vanself oorgegaan het in ʼn hoofbombardement. Hy het ou kallers uit die kallerhok gehaal om ons op ons foute van die verlede te wys. Hy het ons onvermoë om enigsins iets goeds te kon doen, luid uitgewys en dit beklemtoon dat hy swarigheid sien vir die Weermag van die toekoms met die gebrekkige offisiersmateriaal wat hy in ons ervaar het.

En toe gebeur dit. Staf Jordaan se fanfare het so ʼn triomfantelike crescendo bereik toe sy stel valstande skielik, daar reg voor ons oë, uit sy mond uit glip en grond toe val!

Met die reflekse van ʼn jagluiperd wat sy prooi jag, het Jordaan vorentoe geleun en met sy mond so ge-hap-hap agter sy tande aan. En, wonder bo wonder, die volgende oomblik het hy die tande so in die lug en sowat knie-hoogte bokant die grond gevang . . . en was dit weer terug in sy mond!

Die oomblik van doodse stilte daarna het soos ʼn ewigheid gevoel. Enigiets was nou moontlik.

Jordaan het hom reggeruk, na ons gegluur en met die behendigheid van ʼn gesoute diplomaat, maar met die ysige stem van ʼn laksman gesis: “Van Zyl, kyk net hoe kwaad is ek vir jou! Selfs my tande klim uit om jou te gaan byt!” 

Ek vermoed dat almal in Die Leërgimnasium daardie dag die gedreun van die onbeheersde gelag wat in aanhoudende salvo’s van die paradegrond af aangerol gekom het, gehoor het!

Ten spyte van Staf Jordaan se siening oor gebrekkige offisiersmateriaal, het ons tóg offisiere geword en het talle van ons lang en bevredigende loopbane in die Suid-Afrikaanse Weermag gehad. Baie ander mense het ná Staf Jordaan ook ʼn rol in ons vorming as offisiere gespeel. Min kon hom dit egter nadoen in terme van toewyding, afronding en professionaliteit.

En ek twyfel of enigeen ná hom die voordeel van tande gehad het wat sou uitklim om jou te byt wanneer jy iets verkeerd gedoen het!