KAARTE VIR AFRIKA

 Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor innoverende maatskappye in die Stellenbosse Tegnopark wat in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn het.

“Ons dui net paaie op ons kaarte aan wat ‘n  GPS (globale posisioneringstelsel) spoor het. Iemand moes daar gery het voordat ons so ‘n pad insluit,” sê Johann Groenewald van Tracks4Africa in die Stellenbosse Tegnopark.

Tracks4Africa verskaf GPS- en gedrukte kaarte wat paaie in selfs afgeleë dele van Afrika aandui.

Wouter Brand, ‘n stigterslid van die maatskappy, het 15 jaar gelede as ‘n stokperdjie begin om data oor roetes in Afrika te versamel. Namate GIS-tegnologie en GPS-toestelle meer bekombaar geraak het, het hy met hierdie data elektroniese kaarte geskep waarmee reisigers destyds op ‘n redelik elementêre manier op hul GPS-toestelle kon navigeer.

Die kaarte se inhoud en bruikbaarheid het verbeter namate die tegnologie ontwikkel het. Kaartgebruikers het ook begin om die roetes wat hulle gery het, aan Brand beskikbaar te stel om die inhoud van sy kaarte verder te verfyn.

Reisigers se betrokkenheid en die aanvraag na kaarte het so toegeneem dat Brand en Groenewald Tracks4Africa in 2003 stig. Hulle verbeter die Tracks4Africa-stelsel deur ‘n outomatiese roetebepalingfunksie in te sluit. Vir die eerste keer kon die reisiger ‘n begin- en eindpunt op ‘n GPS-instrument met ‘n Tracks4Africa-kaart daarop invoeg en kon die stelsel self die roete uitwerk en die gebruiker na die eindpunt begelei. Hulle maak buitengewone vordering om kaarte regoor Afrika op te dateer en stel in 2008 volledige roetes bekend wat die reisiger outomaties van Kaapstad na Kaïro neem. Hierdie was ‘n wêreldwye eerste wat produkte van groot internasionale kaartverskaffers met ten minste vier jaar getroef het.

Die kern van Tracks4Africa se sukses is ‘n ervare reisgemeenskap van meer as 3000 vrywilligers wat reële inligting oor paaie wat hulle gery het sonder vergoeding aan Tracks4Africa deurgee. In ruil daarvoor gebruik hulle Tracks4Africa se produkte gratis. Hierdie vennootskap met ‘n kommersiële aanwending is waarskynlik net so uniek soos die Tracks4Africa-konsep en sukses. 

Die feit dat alle paaie wat op Tracks4Africa-kaarte voorkom, gery is en dus bestaan, staan teenoor kaarte wat ander maatskappye op ander, minder akkurate maniere skep. Die praktyk het al bewys dat talle paaie wat op hierdie wyse op ander Afrika-kaarte aangebring is, nie bestaan nie.

Tracks4Africa is sonder winsbejag by humanitêre- en natuurbewaringsprojekte betrokke. “Dit is vir ons belangrik om die samelewing te ondersteun,” sê Groenewald. Die wyse waarop Tracks4Africa se spoor Afrika deurkruis, illustreer egter dat hulle baie meer as net dit doen – hulle, tesaam met die reisigers wat roete-bydraes lewer, maak Afrika inderdaad toeganklik.

Einde