Hierdie artikel deur Johan du Preez en Roché Compaan van Stellenbosch vorm deel van ‘n reeks in die plaaslike koerant - Eikestadnuus - oor mense en hul honde waarin honde-eienaars beter begrip vir hul beste vriend kan kry.

VAN WERKER TOT TROETELDIER

“Honde het geneties uit wolwe ontwikkel. Mense fouteer egter om honde se gedrag te interpreteer in terme van hul genetiese wolf-oorsprong, eerder as om die hond te sien as ‘n dier met dié uitsonderlike wolf-kwaliteit om sosiale bande met mense te vorm,” sê Roché Compaan wat saam met Sumo, sy Staffie/Jack Russell-hondjie, onlangs as die Kennel Union of South Africa se SA Agility-kampioenspan aangewys is.

Compaan wys uit dat honde oorspronklik as werkers geteel is. Sulke honde is nie troeteldiere wat by mense woon nie, maar is buite, aktief en leef onder omstandighede waar hulle kan doen waarvoor hulle geteel en opgelei is.  

Honde se rol het egter stelselmatig ook na dié van troeteldiere verander. “Dit het vir hulle om verskeie redes krisisse geskep,” sê Compaan. “Hoofsaaklik weens onkunde en, ondersteun deur die hond se menslike ingesteldheid, het die mens verkeerdelik die hond as ‘n dier met menslike eienskappe begin beskou en hanteer. Hierdie vermensliking van honde lei tot verwarring en wanaanpassing omdat honde-eienaars dikwels verkeerdelik glo dat honde oor komplekse emosies soos skuldgevoelens en verwyt beskik en selfs 'n begrip van tyd het en dus in staat is om gebeurtenisse wat ver uitmekaar plaasgevind het, met mekaar in verband te bring. Hierdie menslike verwagtinge is gewoonlik die oorsaak van frustrasie en oorreaksie tydens opleiding, iets wat nie goed vir beide die dier en sy eienaar is nie.”

Volgens Compaan is dit belangrik dat eienaars die regte soort hond kies, dat hulle deeglik bewus moet wees van die langtermynverantwoordelikhede wat eienaarskap meebring en dat hulle die bronne waar hulle kan leer hoe om hul honde te hanteer, moet benut. “Omdat honde emosioneel ongesofistikeerd en baie soos kinders is, beteken dit dat ‘n hond in ‘n huis is soos om ‘n kind in ‘n huis te hê. Dit verg voltydse aandag, opvoeding en koestering,” sê Compaan. “Honde raak lief vir hul eienaars en neem hulle as ouers aan. Eienaars kan derhalwe, as voorbeeld, nie hul honde alleen tuis los en verwag dat hulle nie dinge gaan doen wat hulle nie veronderstel is om te doen nie, of dat hulle nie angstig, selfs bang gaan raak terwyl die eienaar weg is nie.”

“Die feit dat verskillende honde nie eweveel ontwikkel nie en oor die algemeen nie volwassenheid gedurende hul lewe bereik nie, beklemtoon die feit dat honde eintlik soos kinders bly wat spesifieke hantering vereis,” aldus Compaan.

Volgende aflewering: Die alfahond-mite.

Klik hier om die artikel op die Eikestadnuus se webblad te lees.