WAS DAAR MAAR MEER SOOS HY

Hierdie artikel deur Johan du Preez het in die Stellenbosse koerant, Eikestadnuus, verskyn.

Stellenbossers ken hom aan die Duitse voetbalvlag voor sy huis. In bewaringskringe word hy gerespekteer as die die een wat, onder meer, Thomas Baines en Pierneef skilderye gerestoureer het, selfs ‘n houtskooltekening van Maggie Laubser wat as onherstelbaar beskou was. Op 6 Desember vanjaar sal hy 50 jaar in Suid-Afrika wees.

Henri Wirth arriveer op 6 Desember 1964 uit Duitsland in Suid-Afrika. Met sewe jaar opleiding in die boekbind, boek- en kunsrestourasiekuns en drie jaar praktiese ondervinding, word hy by die Carnegie Biblioteek van die Universiteit Stellenbosch as boek-restourateur aangestel.

Gedurende sy loopbaan van 45 jaar by die universiteit, is hy nie net verantwoordelik vir boekrestourasie nie, maar raak hy betrokke by ‘n menigte projekte met resultate van onskatbare waarde vir Suid-Afrika.

So restoureer Henri die skilderye van Maggie Laubser wat hy uit ou kratte in haar motorhuis gehaal het. Hy ontwerp die konsep vir die SASOL-Kunsmuseum se binneruim waar die J du P Scholtz-versameling wat hy gerestoureer het, hang en hy hanteer die groot restourasieprojek van die kaarte in die Africana-afdeling van die biblioteek.

Hy restoureer olieverfskilderye van, onder andere, TW Bowler en I’Ons asook antieke kaarte uit die Solomon-skenking en Simon van der Stel-transportaktes. Hy bied verskeie uitstallings aan en konsulteer vir die Parlementsbiblioteek, die Nasionale Kultuurhistoriese Museum en die Rembrandt van Rijn Kunsstigting, om maar net ‘n paar te noem. Hy verteenwoordig die universiteit op internasionale kongresse en ontvang verskeie studiebeurse asook ‘n erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir restourasie van kunswerke.

Maar wat is Henri se lewensfilosofie? “Elke mens moet voortdurend sy horisonne verbreed,” sê Henri. “En as jy dit eers doen, kan jy dit nooit omkeer nie. Jy hou aan om te groei.”

En dit verduidelik waarskynlik Henri se sukses. Hy het voortdurend gegroei deur sy vakkennis te verbreed. Dit, tesaam met met sy kreatiwiteit, deeglikheid en toewyding, het gemaak dat hy ‘n nalatenskap van kultuurskatte in Suid-Afrika het wat andersins verlore sou wees, al is hy nie die oorspronklike skepper daarvan nie.  

Sommige mense se lewensverhale word op die voorblaaie van dagblaaie geskryf en is vlietend. Ander soos Henri Wirth s’n word in die agtergrond verewig. Sommiges het ‘n kortstondige oomblik van tevredenheid oor dit wat hulle in die lewe bereik het. Henri, daarteenoor, kan met genoegdoening terugkyk na blywende waarde wat hy deur sy restourasiewerk toegevoeg het. Dankie, Henri. Ons wens daar was meer soos jy.