WILFRED DANIELS – VAN REKORDHOUER TOT GRENSVERSKUIWER IN ATLETIEK

Hierdie artikel deur Johan du Preez is een van ‘n reeks oor bekende eertydse Suid-Afrikaanse sportsterre wat in Stellenbosch woon en wat in die plaaslike koerant – Eikestadnuus – verskyn het.

“Ek was teleurgesteld dat die internasionale sportboikot verhoed het dat ek en mede-atlete Suid-Afrika tydens Olimpiese byeenkomste kon verteenwoordig. My vreugde oor my bestuursbetrokkenheid later jare by drie Olimpiese Speles, versag egter hierdie vroeëre teleurstelling.”

Wilfred Daniels, middelafstandatleet en Suid-Afrikaanse trippelrekordhouer in die 400, 800 en 1500 m onder die vaandel van die destydse South African Council on Sport (SACOS), se woorde weerspieël iets van die onverwagse en invloedryke draaie wat sy loopbaan gemaak het. Wat begin het as ‘n atletiekloopbaan tydens nederige skolebyeenkomste by die destydse Green Point Track in Kaapstad, het twee dekades later nasionale en internasionale grense verskuif.

Soos dit dikwels met skoolaktiwiteite gebeur, het Daniels atletiekdeelname na skool gestaak en hom op sokker toegespits. Sy eerste liefde was egter atletiek en hy sluit in 1973 by die Elsiesrivier Atletiekklub aan en daarna by die Stellenbosch Atletiekklub toe dit in 1976 gestig word.

Terselfdertyd werk hy saam met Jan Boland Coetzee aan gemeenskapsprojekte op die Kanonkop wynlandgoed – ‘n taak wat hom toerus vir nog groter gemeenskaps- en veral nasionale betrokkenheid in die jare wat voorlê. Hierdie betrokkenheid in die 1980’s begin toe hy as sportafrigter by die Universiteit van Wes-Kaapland werksaam was en prof. Jakes Gerwel – die destydse rektor – hom oorreed om ‘n afvaardiging Suid-Afrikaanse sportlui na Lusaka te neem om gesprek met die ANC se destydse sportvleuel te voer. ‘n Tweede afvaardiging, ook onder sy leierskap, gee aanleiding tot gespreksvoering met die amptelike sportliggame in Suid-Afrika – ‘n proses wat lei tot die stigting van een Suid-Afrikaanse atletiekliggaam en Suid-Afrika se toelating tot die Olimpiese Spele in Barcelona in 1992.

Daniels was van 1993 – 2009 voltyds as afrigter en ontwikkelingsbeampte by Atletiek Suid-Afrika betrokke. Hy bedank egter in 2009 uit die liggaam toe hy as die Olimpiese middelafstandatleet, Caster Semenya, se afrigter nie saamstem met die wyse waarop die debakel rondom haar geslagstoetse hanteer is nie.

Hy kry ‘n werksaanbod uit ‘n onverwagte oord toe die WNNR die bestuurspos van hul Sporttegnologiesentrum – ‘n sentrum wat uitblinkers in verskeie sportsoorte vir wêreldkampioenskappe voorberei – kort hierna vir hom aanbied. Hy beklee die pos tot en met sy aftrede in 2015.

Daniels skryf sy sukses as atleet en sy welslae in rolle van uiteenlopende aard daarna toe aan die feit dat hy ‘n obsessiewe mens is. “As ek van iets hou, dan doen ek dit na die beste van my vermoë,” sê hy. “Maar terselfdertyd moet ‘n mens ook bedagsaam wees en jou rol so speel dat ander in jou kan glo en na jou kan opsien.”   

Daniels se loopbaan wat begin het met ‘n liefde vir atletiek, het uitgekring om verandering en geleenthede vir atlete te skep. Dit het hom ook op ‘n pad geplaas waar hierdie doen-wat-jou-hand-vind-om-te-doen mens instrumenteel was vir ‘n nuwe begin vir sport in Suid-Afrika. Die feit dat hy as Suid-Afrikaanse spanadministrateur by die Olimpiese Spele in Sydney in 2000, Athene in 2004 en Beijing in 2008 kon optree, is maar net een bewys hiervan.