Bultfontein is waarskynlik die laaste Vrystaatse dorp wat elektrisiteit in die sestigerjare gekry het.

Daar was altyd opgewondenheid wanneer ek saam met Pa en Ma by die familie op die buurdorp, Brandfort, gaan kuier het. Brandfort het elektrisiteit gehad en die nefies elektriese Scalectrix renmotortjies waarmee ons die ure omgespeel het.

Daar was weemoed in my hart wanneer ons die renmotortjies aan die einde van die kuier weggepak het. Ek het geweet dat ek nooit ‘n Scalectrix-stel sou kon besit nie, want Bultfontein het nie elektrisiteit gehad nie.

Eintlik het dit nie gegaan oor Bultfontein wat nie elektrisiteit gehad het nie. In die dorpsmond was die probleem dat Bultfontein nie liggies gehad het nie. Ek onthou die gelerige lig van ‘n paraffienlamp waarby ek my huiswerk gedoen het. Ma het ook ‘n Alladin-lamp gehad. Hierdie wonderwerk van ‘n lamp wat ‘n suiwer wit lig gegee het, was hoofsaaklik in die sitkamer gebruik wanneer ons gaste ontvang het. Ander mense het selfs sulke lampe gehad wat opgepomp moes word om dan met ‘n agtergrondgesuis lig te verskaf. Maar, dit was nie liggies – elektriese liggies – nie.

En tog hét Bultfontein liggies gehad – Oom Vên se liggies.

Oom Vên van Niekerk was ‘n elektrisiën. Ek kon nooit verstaan wat ‘n elektrisiën op Bultfontein gemaak het nie, want daar was dan nie elektrisiteit nie. Sy besigheid se naambord “Van’s Electrical” het uitgestaan op ‘n dorp waar selfs die Joodse winkeliers hul besigheid “Horwitz en Levitt Algemene Handelaars” genoem het en waar Engels slegs in Mister Wright se Engels klas by die skool gehoor en probeer praat is.

Hoewel Oom Vên Afrikaanssprekend was, het dit nie altyd so geklink nie. ‘n Mens kon dikwels nie mooi hoor wat hy sê nie en meesal kon mens nie verstaan wat hy met sy skrillerige stem teen ‘n haastige tempo probeer verduidelik het nie.

Oom Vên was áltyd haastig. Die geskarrel van hierdie man met sy skraal postuur in sy kenmerkende Omo-wit oorpak, het my altyd laat dink aan die rysmiere wat ek met belangstelling kon dophou. Soos hulle was Oom Vên ook altyd besig. Soos hulle het Oom Vên ook hard gewerk. Anders as hulle het Oom Vên minder struktuur en veral logika gehad in hoe hy dinge gedoen het.

‘n Outydse effens-te-groot gholfkeps wat so effens skeef na agter op sy kop gesit het, het hom laat lyk soos ‘n destydse Amerikaanse bofbalspeler. (Die Amerikaanse  gansters in die swart-wit rolprente wat ons later jare op Saterdagaande in Bultfontein se stadsaal gesien het, het ook sulke pette gedra. Hulle het ook masjiengewere gedra. Oom Vên, gelukkig nie.) Sy tenger lyf het egter beklemtoon dat hy beslis nie ‘n bofbalspeler (of ‘n ganster) was nie.

Om redes wat niemand ooit geweet het nie, het Oom Vên besluit om elektriese straatligte in Bultfontein te installeer. Uiteraard kon hy nie die hele dorp se strate elektrifiseer nie. Hy het dus besluit om een straat van ligte te voorsien – Theunissenstraat, die straat waarin ons gewoon het.

Oom Vên moes seker soos Noag van ouds gevoel het toe hy die Ark gebou en mense allerhande vrae gevra het. “Vên, hoekom lê jy straatligte aan en waar gaan die elektrisiteit vandaan kom?” Of: “Hoekom Theunissenstraat? Hoekom nie eerder die hoofstraat nie?” Ek dink nie Oom Vên het self geweet nie.

En soos ek vermoed mense gewoond geraak het aan Noag wat dag na dag die Ark gebou het, so het ons gewoond geraak aan Oom Vên wat dag na dag in Theunissenstraat gate gegrawe, pale geplant en kabels gespan het.

So het dit dan gebeur dat Bultfontein een straat met elektriese straatligte gekry het. Saans, klokslag as die skemer daal en die aand steurend stil raak, het Oom Vên se Lister dieselenjintjie begin poef-poef en het die kragopwekker wat daaraan gekoppel was dit reggekry om selfs die gloeilamp op die verste punt van die lang straat ten minste ‘n sinvolle gloed te gee.

Die ligte was nou nie juis van so ‘n aard dat ons die gordyne moes toetrek om die slaapkamer teen slapenstyd donker te maak nie. Ook kan ek nie dink dat die passasiers op SAL se sporadiese vlugte vanaf Kaapstad na Johannesburg hul kaptein oor die interkom sou hoor sê het: “…en aan die regterkant sal u Bultfontein se ligte in die verte sien…” Feit bly egter staan, Bultfontein het straatligte gehad – Oom Vên se ligte.

En wanneer ons laataand na ‘n kuier van Oom Boet en Tannie Sarie Venter se plaas, Stillerus op die Wesselsbronpad teruggery het huis toe, het ek gewag om Oom Vên se liggies in Theunissenstraat vanuit die donkerte te sien. Vir my was dit die kompas wat gewys het waarheen ons op pad was en waarheen ons moes gaan om ons bestemming te bereik – die verligte landingstrook in Theunissenstraat na ‘n huis en tuiste waar daar rus was. Stille rus.

Ek het toe nooit ‘n Scalectrix-stel besit nie. Teen die tyd toe Bultfontein Eskom-krag gekry het, was daar nuwe werklikhede in my lewe wat te doen gehad het met die realiteite van ‘n kind wat besig was om groot te word – ‘n kind wat kompasse gesoek het om die rigting aan te dui waarheen hy as ‘n jong man moes gaan. En die kompasse was daar. Soos Oom Vên op sy manier ons donker straat verlig en ‘n veilige heenkome sigbaar gemaak het, was daar ook ander Oom Vêns in my lewe gewees wat, toe ek dit nodig gehad het, straatligte aangeskakel het sodat ek kon sien waarheen ek moes gaan.

En soos Oom Vên nooit geweet het dat sy liggies vir ‘n kind die simbool van rigting en ‘n veilige hawe versimboliseer het nie, so het diegene na hom waarskynlik ook nooit besef wat hulle hulp en optrede in my lewe as kind, en later as grootmens, beteken het nie.

Ek huldig hom wat destyds in Butfontein vir my ligte laat skyn het en huldig almal wat dit daarna vir my gedoen het… en dit steeds doen.

Dankie, Oom Vên.

Categories: People