Die dag toe ek geskiedenis gemaak het

Iets wat ek vir byna 50 jaar verswyg het, was die gebeure daardie Woensdagmiddag  in 1970 toe ek geskiedenis gemaak het. My stilswye was nie as gevolg van nederigheid oor hierdie uitsonderlike gebeurtenis nie, maar eerder as gevolg van verleentheid oor die manier hóé ek geskiedenis gemaak het.

Hier volg my storie …

1970. In die arnale van die Vlootbasis Saldanha staan dit opgeteken as die jaar waarin ‘n walvisboot van die Suid-Afikaanse Vloot die eerste keer in die geskiedenis van hierdie basis gesink het.

Ek het dit laat sink.

Aan die begin van 1970 arriveer ek en ‘n aantal mede-kandidaatoffisiere in die Suid-Afikaanse Leër – saam met ons eweknieë in die Lugmag en die Vloot – as eerstejaars by die Militêre Akademie in Saldanha om ons militêre graadstudies te begin. Dit was die begin van ‘n belangrike fase van ons offisiersopleiding en, behalwe vir die akademiese aspek daarvan, het dit ook vormingsopleiding behels om ons as toekomstige offisiere voor te berei. Dit was nogal ‘n ernstige saak en ons as eerstejaars was daarop ingestel om nie foute te maak nie, veral nie so aan die begin nie. Dit kon tot nadeel van ons loopbane wees. 

As Leërstudente het ons reeds die jaar tevore by Die Leërgimnasium in Heidelberg in die ou Transvaal intensiewe infanterie-opleiding ondergaan. (Om konteks aan die res van my rampspoedige verhaal te gee, moet ek verduidelik dat infanteriste die voetsoldate van ‘n leër is wat opgelei is om die die vyand met gewere, masjiengewere, handgranate, mortiere en soortgelyke wapens te oorwin. Ons het alles hiervan tot in die fynste detail by Die Leërgimnasium geleer. Bote en vaarkuns was egter nie deel van ons opleiding nie.)

Bote en vaarkuns? Ek loop my storie vooruit.

Woensdagmiddae was nog altyd sportmiddae in die Weermag, of sportparade, soos dit genoem is. Dan het almal op die paradegrond aangetree van waar die sportsoorte waaraan jy kon deelneem, uitgeroep is. Só was dit ook by die Militêre Akademie by ons eerste sportparade daardie gedoemde Woensdagmiddag. Sammajoor Ockert Snyman het luid aangekondig waar die rugbymanne moes aantree, die sokkermanne, die tennismanne (ja, dit was in die jare voordat daar vroue in uniform in die Weermag was) en, onverwags, die manne wat wou gaan seil. Makker Rautie Rautenbach (toe ook nog ‘n infanteris) het my aan die arm gepluk en met ‘n ferm kopbeweging dit baie duidelik gemaak dat ons daardie middag gaan seil!

“Maar ons weet niks van seil af nie!” Ek was erg onseker.

“Kom!” was sy ferm antwoord. Ook maar goed, want daarna is daar nie nog sportsoorte uitgeroep nie en die manne wat oorgebly het, moes die Militêre Akademie se tuine gaan skoffel.

So beland ek, Rautie en Kobus van Zyl (ook ‘n mede-infanteris) saam met die ander manne wat wou gaan seil agter op ‘n Bedford-vragmotor om af te ry na die nabygeleë Vlootbasis Saldanha. Meer nog, ons drie word saam met mede- Vloot eerstejaar, Fanie Uys, die bemanning van ‘n walvisboot (almal het maar van ‘n whaler gepraat) om te gaan seil! Fanie was ‘n gekwalifiseerde walvisbootskipper; ons ander drie was … hmm … infanteriste met ten minste een van hulle (die uwe) wat nog nooit tevore geseil het nie!

‘n Walvisboot – gesien deur die oë van ‘n infanteris – is ‘n swaar houtboot met sitplek vir ‘n infanterieseksie (tien manne), ‘n roer aan die agterkant met ‘n beheerarm waarmee die skipper die boot kan stuur, ‘n seil aan die voorkant wat lyk asof dit hoog bokant aan die boot se mas vasgeknoop is en al wyer na benede uitsprei, en ‘n driehoekvormige seil in die middel met ‘n horisontale balk aan die onderkant daarvan wat gevaarlik heen en weer kon swaai en jou van die boot kon afstamp as die seil nie goed beheer word nie. (Miskien moes iemand my vooraf die belangrike beginsels van beheer van hierdie driehoekseil geleer het …)   

Ewenwel, so vaar ons toe Saldanhabaai in – Fanie aan die roer en in beheer, ek by die voorste seil se tou, Rautie beman die hoofseil en Kobus in reserwe om by een van ons oor te neem wanneer Fanie so sê.

Vir die eerse keer in my lewe sien ek, wat op die stowwerige Vrystaatse platteland grootgeword het, die wêreld vanuit ‘n boot op die see. Aan ons linkerkant lê die dorpie Saldanha. Regs vorm die land so ‘n lang arm in die see in en skei dit die baai met sy kalmer water van die rowwe oop see aan die ander kant. ‘n Entjie verder is die baai se opening waardeur skepe die oop see kon bereik.

Ek was redelik verveeld op my voorseilpos. “Moet ek nou die hele middag hier sit en ‘n stuk tou vashou?” het ek myself afgevra, so amper asof die skoffel-opsie terug by die Akademie dalk ‘n beter alternatief sou wees. Maar toe ruil ons poste en dinge verander. Ek skuif na die hoofseil toe!

Gou kom ek agter dat die hoofseil te doen het met die spoed waarmee ons deur die water beweeg. Hoe harder ek aan die tou en katrolstelsel wat hierdie seil beheer het trek, hoe stywer span die seil en hoe vinniger vaar ons. (Dit het ook veroorsaak dat die boot al meer oorgehel het. Dit het ek egter eers later, en welliswaar te laat, agtergekom.) Uiteindelik begin dinge opwindend raak en stelselmatig katrol ek die hoofseil stywer en stywer in, die skoffel-opsie heeltemal vergete. Ons seil, en ons seil teen ‘n spoed!

Dit is toe dat ek die fout maak. In plaas daarvan om die tou stelselmatig in te katrol, gee ek dit ‘n kragtige trek … en die boot kantel vêr oor en skep water! Dit skep sóveel water dat ons letterlik kniediep daarin sit. Die gewig van die water het veroorsaak dat Fanie die boot nie meer kon stuur nie, met die gevolg dat ons reguit verby die breekwater vaar, die sterk wind en die vreesaanjaende oop see in.

Nog ‘n eerste vir my, was om die wêreld nou vanaf die oop see vanuit ‘n boot half-vol water te sien. Een oomblik was ons op die bopunt van een van die reusegolwe en sien ons Saldanha en die hinterland daaragter in die verte. Net daarna tuimel ons met ‘n vaart teen die golf se kant na benede om van onder af net twee donkergrys, yskoue watermure weerskante van ons te sien uittroon, voordat ons weer opskiet na die volgende kruin.

Maar, Fanie hou kop. Hy gee opdrag om die seile te laat sak en met die ervaring van ‘n gesoute seeman trek hy sy hemp uit, en hys dit teen die mas op. Dit, het ek later verneem, was ‘n noodsein.

Wanneer die Vloot se bote op die water was, het ek ook later verneem, dan was daar iemand op die kaai wat toesig hou. En, wonderbaarlik, die noodsein is raakgesien en kort voor lank het ‘n groot houtboot met ‘n binneboorddieselenjin (‘n cutter – sommer ‘n rêrige skip!) ons genader. Vanaf die boot het hulle met ‘n megafoon vir ons instruksies gegee wat om te doen ten einde ons walvisboot om te draai sodat ons kon terugseil na die veiligheid van die baai. Ons het gedoen wat gesê is, maar … dit het nie gewerk nie. ‘n Groot golf het ons omgedop en die walvisboot het gesink!

Die proses hoe ons uit die see opgepik is, hoe ek vrywillig teruggegaan het om die walvisboot – wat sowat ‘n meter onder die oppervlakte van die water gedryf het – aan die cutter vas te maak sodat ons dit kon terugsleep kaai toe (ek was immers die een wat die hoofseil se tou so onverantwoordelik gepluk en die katastrofe veroorsaak het), hoe die cutter halfpad kaai toe begin sink het nadat die walvisboot ‘n gat daarin gestamp het, hoe ek terug in die water was om die walvisboot op ‘n ander manier vas te maak, en hoedat die res naarstigtelik water uit die cutter se romp gepomp het sodat ons net-net die kaai kon haal, is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Wat my egter altyd sal bybly was, toe ons almal veilig op die kaai staan, die enkele vraag wat die adjudant-offiser wat aan diens was aan Fanie gevra het: “Do you have all your men?”

Fanie kon bevestigend antwoord.

Ek het nooit weer gaan seil nie. As ‘n eerstejaar wat dit nie kon bekostig om nóg foute tydens sy vormingsjare as offisier te maak nie, het ek dit wys geag om daarna eerder, soos ‘n goeie infanteris, tydens sportparade te gaan skyfskiet. Ek het ook geweet dat, sou ek besluit het om weer te gaan seil, die Vloot my sou gekeer het nog voordat ons die Vlootbasis se hekke bereik het. Ook sou Sammajoor Snyman, nog lank voordat ek by die “seilmanne” kon aantree, my by die skoffelspan vir die middag ingedeel het.

Aan die begin van 1970 het ‘n walvisboot van die Suid-Afrikaanse Vloot vir die eerste keer in die geskiedenis in Saldanhabaai gesink.

‘n Infanteris was daarvoor verantwoordelik.

Ék was daardie infanteris!