Admiraal Bierman en die Vrystaatse vloot

Hierdie storie gaan oor ʼn restaurant – die Skip Restaurant – wat op die onderste dek was van die Athlone Castle, ʼn skip op die Athlone-dam by Bethlehem in die Vrystaat.

Eintlik gaan dit meer oor Oom Fred Prinlsoo – die destydse eienaar van die restaurant – en oor ʼn admiraal …

Die Athlone-dam is Bethlehem se opgaardam vir drinkwater. Vroeër jare was dit ook ʼn gewilde vakansieoord met vakansiehuisies, ʼn openbare swembad met ʼn glyplank (nogal!) en … die Skip Restaurant.

Hoewel almal maar van Die Skip gepraat het, het die wat geweet het, gesê dat dit eintlik ʼn replika van die destydse stoomposboot – die Athlone Castle – was wat diens tussen Engeland en Kaapstad gedoen het. Of Die Skip se eintlike naam – die Athlone Castle – nou van die rêrige Athlone Castle afkomstig was, en of dit afgelei was van die Athlone-dam waarop Die Skip permanent vasgemeer was, en waar die Athlone-dam se naam vandaan gekom het – sekerlik nie van Die Skip of die posboot af nie – weet niemand eintlik nie. Feit bly staan die Athlone-dam het ʼn skip gehad wat amptelik die Athlone Castle genoem was … maar eintlik maar net Die Skip in die volksmond was. 

Die Skip was ʼn betonstruktuur wat op die water gebou was, direk langs wat ʼn mens seker die kaai kon noem. (Die Vrystaters het sommer daarna as die wal verwys – nie die dam se wal nie, die skip se wal.) ʼn Mens kon met ʼn (sement-)loopplank (daardie een het die Vrystaters darem reg gehad!) op die skip klim (hulle het nie van aan boord gaan geweet nie). Op die skip was daar ʼn boonste dek met iets soos ʼn kafee waar ʼn mens koeldrank, roomys en lekkers kon koop. Op die onderste dek was daar ʼn formele restaurant – Oom Fred se restaurant.

Oom Fred was ʼn dinamiese man en ʼn besondere gasheer wat kos, drankies en etiket verstaan en jou laat tuis voel het. Hy het ʼn loopbaan as offisier in die Handelsvloot agter die rug gehad toe hy die restaurant in Bethlehem geopen het. Hy het vloottradisies en vlootprotokol geken.

In die restaurant was dit asof jy op ʼn werklike skip was – interessante vloot-aandenkings op die tafels en teen die mure, uitstaande kos en uitstekende diens. Ek onthou veral die hoofkelner – ʼn lang, waardige en uiters bekwame Zoeloe-man wat jou laat voel het asof jy die enigste gas in die restaurant was wanneer hy en sy span jou met kos bedien het.

Ek was gedurende die middel-1970’s as ʼn jong offisier in die Suid-Afikaanse Leër by 2 Veldgenieregiment in Bethlehem gestasioneer. Wanneer ons hooggeplaaste besoekers ontvang het wat moes oornag, het ons vir hulle verblyf by die Athlone-dam se “VIP”-vakansiewoonstel gereël en het hulle by die Skip Restaurant geëet.

Admiraal Bierman het as Hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag op ʼn keer by ons besoek kom aflê. Ons het vooraf met Oom Fred gereël dat die admiraal middagete by die Skip Restaurant sou gaan eet.

Daardie dag het Oom Fred uitgehaal en gewys. Toe die admiraal arriveer, het al die kelners in hul wit baadjies net soos matrose op die boonste dek in gelid en op aandag gestaan. Oom Fred het die admiraal in vloottradisie aan boord gepyp. (Vir die Vrystaters – dit is ʼn seremonie waartydens die kaptein van die skip – in hierdie geval Oom Fred – op ʼn soort van ʼn fluitjie blaas terwyl die hooggeplaaste – in hierdie geval Admiraal Bierman – via die loopplank aan boord stap.)

Die admiraal was stomgeslaan! ʼn Skip in die Vrystaat met ʼn bemanning en ʼn kaptein wat van skip-dinge weet, wat skip-dinge verstaan en wat skip-dinge doen!  

Maar dit het nie daar geëindig nie. Die ete was in tipiese vloottradisie voorgesit, insluitend die glasie (of meer!) port aan die einde.

Die admiraal was so beïndruk dat hy daar en dan vir Oom Fred gesê het: “Ek maak jou ʼn ere-kommodoor in die Suid-Afrikaanse Vloot!”

Oom Fred het gedink die admiraal maak ʼn grap en ons ander het beleefd saamgelag.

ʼn Paar weke later het hy ʼn geregistreerde pakkie van Verdedigingshoofkwartier in Pretoria in die pos ontvang. Dit was van Admiraal Bierman. Binne-in was Ere-kommodoor Fred Prinsloo se aanstellingsbrief, tesaam met sy persoonlike ere-kommodoorsvlag!

* Ek onthou ook (en probeer hard om dit te vergeet…) toe wyle Generaal Viljoen en sy vrou een aand eregaste tydens ʼn burgemeestersonthaal in Oom Fred se Skip Restaurant was. Toe ek die generaal en Mev Viljoen laat daardie aand in die dorp aflaai waar hulle oornag het, was sy woorde aan my: “Laai ons moreoggend om 06:30 op.” Hy wou vroeg by die helikopter wees waarmee hulle sou terugvlieg Pretoria toe om teen 07:00 in die lug te wees.

En dit is juis dáárdie oggend toe ek verslaap!

Maar dit is ʼn ander lang storie (sonder Oom Fred en die admiraal daarin) vir ʼn volgende keer…