ʼn Paai’tjie vir Outannie

Dit was in die middel-1970’s. As ʼn jong offisier in die Suid-Afrikaanse Weermag staan ek in uniform op ʼn perron (die oumense het mos van ʼn platform gepraat) op Bloemfontein se stasie en wag vir ʼn trein na Bethlehem. Ek is op pad terug na die militêre basis aldaar waar ek gestasioneer was.

Intussen arriveer ʼn ander passasierstrein. Dit kom op so ʼn manier tot stilstand dat ʼn ou dame wat deur die oop venster van die kompartement leun, binne reikafstand van my is.

“Boetie, wil jy nie vir outannie ʼn paai’tjie by die kêffie gaan koop nie, asseblief?” en sy hou haar hand met kleingeld in na my uit.

Ek dink aan hoe my ouma altyd ʼn piekniekmandjie (een van daardie wat van rottang gemaak was) vol eetgoed en lekkernye gepak het wanneer ek saam met haar en Oupa trein gery het. ʼn Oorvloed van kos!

Skielik kry ek Outannie baie jammer. Hier is sy alleen op ʼn trein na wie weet waar, alleen in ʼn kompartement, sonder kos om te eet en afhanklik van ʼn vreemdeling om vir haar ʼn vleispasteitjie te gaan koop .

Wetende dat die trein binnekort weer gaan vertrek en die feit dat ek met Outannie se geld in my hand staan, maak dat die personeel van die stasiekafee nie die feit kon mis dat ek haastig was nie. Ek koop vir sommer haar twee pasteitjies en betaal self daarvoor.

Ek maak dit net betyds terug trein toe en gee haar die pasteitjies en haar geld. Voordat iemand iets kon sê, begin die trein beweeg en is Outannie weg.

Ek het die trein lank agterna gestaar en eers omgedraai toe ek nie meer die ronde rooi waarskuwingsteken op die agterkant van die trein kon sien nie.

As ek toe maar kon weet hoeveel mense deur die jare wat daarna sou volg vir hierdie jongman (en deesdae ouer oom) ʼn paai’tjie of twee op hulle koste sou koop in tye toe hy hulle hulp die meeste nodig gehad het…

(Johan du Preez)

Nota: Bostaande illustrasie dien slegs as visuele voorstelling en beeld nie die werklike gebeure of persone uit wat in die verhaal beskryf word nie.