Dit het gebeur in die jaar 1986. Ek was, as ’n lid van die Suid-Afrikaanse Weermag, in daardie jaar by die Kommandement Westelike Provinsie Hoofkwartier in Kaapstad gestasioneer
Die kommandement se Leëroffisiereklub – ’n statige gebou in die Militêre Basis Wynberg – was daardie jaar honderd jaar oud. Hierdie mylpaal het gepaard gegaan met wonderlike eeufeesvieringgeleenthede wat in detail beplan, met militêre presisie uitgevoer, en terdeë deur die gaste wat teenwoordig was, geniet is.
Een spesifieke geleentheid het egter nie heeltemal volgens plan verloop nie. Inteendeel, die verrigtinge het vir ’n goeie porsie drama gesorg. Dit was tydens die onthulling van die kanon voor die offisiereklub…
Die gebou se oorsprong
Die Leëroffisiereklub, geleë teen Wynbergheuwel, het ’n houtkonstruksie gehad wat hoofsaaklik uit voorafvervaardigde houtpanele en -komponente bestaan het. Daar was ’n wye stoep van waar ’n mens oor ’n lowergroen grasperk oor Valsbaai kon uitkyk. Dit het ’n koloniale elegansie en ’n waardigheid gehad, eie aan die era waarin dit gebou is.
Daar was onsekerheid oor die oorsprong van hierdie gebou. Volgens stadslegende was dit ontwerp om as ’n hospitaal te dien, en dat die komponente op ’n skip op pad was van Engeland af Indië toe om aldaar tydens een of ander oorlog as hospitaal opgerig te word. Teen die tyd toe die skip by die Kaap aangedoen het, was die oorlog egter reeds verby en is die komponente toe maar daar afgelaai.
’n Ander weergawe is dat die komponente aan die einde van ’n oorlog vanaf Indië terug na Engeland onderweg was, en dat daar besluit was dat dit beter sou wees om dit eerder in die Kaap te ontskeep.
Hoe dit ook al sy, die gebou het sy staan in Wynberg gekry waar dit inderdaad in die geskiedenis ook as ’n hospitaal tydens die Anglo-Boereoorlog gebruik was! Ongelukkig is dit, as die Wynberg Offisiereklub, in 1998 deur ’n brand in puin gelê.
Terug by die eeufeesvierings
Ek was daardie jaar ’n lid van dié klub se klubkomitee. Kolonel Louis Coetzee – Kommandement Westelike Provinsie se Hoof van Staf en ook voorsitter van die komitee (ook die “PMK” genoem – President van die Menasiekomitee) – het die leiding geneem met die reëlings vir die eeufeesvierings. Hy het grootse planne hiervoor gehad. Een daarvan was die restourasie, plasing voor die offisiereklub, en amptelike onthulling van ’n Duitse kanon wat uit die Eerste Wêreldoorlog dateer het. Hierdie kanon het verwaarloos elders in die Wynberg militêre basis gestaan.
Die Vlootbasis in Simonstad het die kanon in al sy glorie gerestoureer, waarna dit op ’n betonplatform voor die offisiereklub geplaas is, die loop gerig in die rigting van Valsbaai.
Die kanon se onthulling het tydens ’n plegtige geleentheid plaasgevind, bygewoon deur sowat 50 oudgediendes uit die Eerste en Tweede Wêreldoorloë en hul gades. Brigadier Helm Roos, ’n oud-bevelvoerder van Kommandement Westelike Provinsie, was die eregas. Hy sou die kanon onthul, en ’n toespraak lewer.
Ek en my vrou, Leana, was gasheer en gasvrou wat die gaste ontvang het en na hul sitplekke op die grasperk voor die gebou geneem het. Dit was wonderlik om hierdie oud-soldate te ontmoet. Sommige het met kieries geloop, ander was nog flink en regop – maar almal netjies aangetrek met oorlogmedaljes wat op hul baadjies gepryk het. Hul opgewondenheid om so ’n militêre geleentheid by te woon, was aansteeklik.
’n Lugafweerkanonnier se manier van dinge doen
Nou moet ek byvoeg dat kolonel Coetzee van die lugafweerkorps was. Hierdie manne se rol tydens ’n konvensionele oorlog was om die plaaslike lugruim bokant eie magte te beveilig, en om die grondmagte met hul lugafweerkanonne teen vyandelike lugaanvalle te beskerm. Hulle was kanonniers wat hul kanonne geken het!
Om hierdie rede – en waarskynlik ook met ’n sentimentele ondertoon – het kolonel Coetzee dit duidelik gestel dat ’n kanon nie maar net onthul kan word nie. Tydens ’n onthullingseremonie moet dit afgevuur word. Hy het toe met die Vloot gereël dat een van hul springstofdeskundiges ’n klein lading buskruit in die kanon se loop sou plaas wat dan tydens die onthullingseremonie ontsteek sou word om ’n ligte ontploffingtjie te veroorsaak.
So gesê, so gedaan!
Nadat die gaste op dié dag hul sitplekke ingeneem het, het kolonel Coetzee almal verwelkom, met ’n spesiale woord van welkom aan brigadier en mevrou Roos. Hy het meer vertel oor die Duitse kanon wat onthul sou word, en ook die volgorde van gebeure verduidelik. Deel daarvan was ’n waarskuwing dat die brigadier ’n knoppie sou druk wat die lading in die kanon elektries sou ontsteek, en dat die gaste (ek wil nou nie die woord “ou mense” gebruik nie, dit klink nie heeltemal reg nie) nie moes skrik nie.
Hy het genoem dat dit ’n klein lading was wat afgevuur sou word, dat hulle die lading die vorige dag getoets het, en dat dit net ’n “poef”-geluid en ’n bietjie rook tot gevolg gehad het. Niks om voor bang te wees, en veral nie om voor te skrik nie!
Hy het die waarskuwing herhaal en die sagte poefgeluid so beklemtoon, dat ek naderhand by myself gedink het: “Dit is nou genoeg. Ons het gehoor. Beweeg tog net aan!”
Murphy is ’n duiwelskind!
Die oomblik waarvoor almal gewag het, het aangebreek – die onthulling van die kanon!
Brigadier Roos het na die kanon gestap en sy plek ingeneem. Dit was doodstil. Ons het in afwagting gewag.
Toe druk hy die knoppie.
Wat veronderstel was om net ’n poef met ’n bietjie rook te wees, eskaleer toe in ’n oorverdowende slag met ’n kolom rook wat by die kanon se loop uitborrel en soos oggendmis op die teenwoordiges toesak. ’n Stuk metaal wat van die kanon losgeruk het, het soos ’n projektiel op ’n trajek in die rigting waar die oudgediendes gesit het, getol. Van waar ek op die stoep agter die gaste gestaan het, kon ek sien hoedat hulle – asof in stadige aksie – begin koes het om die aankomende stuk metaal te ontwyk wat, dankie tog, die grond voor hulle getref en in die grasperk ingeboor het!
Die videomateriaal wat tydens die geleentheid geneem is, agterna gekyk teen ’n stadige spoed, het gewys hoedat ’n vlam agter die kanon by die sluitstuk uitgepeul het toe die lading gedetoneer het. En inligting wat later na vore gekom het, het daarop gedui dat die persoon wat verantwoordelik was vir die lading, dit daardie dag effens groter as die dag van die inoefening gemaak het, en dit ook stywer in die loop getampeer het, wat ’n effek op die krag van die ontploffing gehad het.
Ewenwel, ’n geskokte stilte het na die drama neergedaal terwyl die brigadier, asof niks gebeur het nie, na die mikrofoon gestap het om sy toespraak te lewer. Hy was effens verblind deur die ontploffing, sy uniform was aan die een kant pikswart geskroei, en toe hy sy plek voor die mikrofoon inneem, kon ons sien hoedat ’n dun straaltjie bloed teen sy gesig afloop.
Die brigadier moes besef het dat iets nie reg was nie. Hy het ’n spierwit sakdoek uit sy sak gehaal, dit teen sy gesig gedruk, en toe voor hom gehou. Hy het nadenkend na die bloed daarop gestaar, opgekyk, en sy toespraak ongesteurd begin: “I think I’ve been wounded!”
En waar hulle in die gehoor gesit het, het brigadier Roos se vrou saggies vir Cynthia – kolonel Coetzee se eggenote – gefluister: “I knew we couldn’t trust these Germans!”
Die res van die verrigtinge het vlot verloop. Die brigadier is in die week daarna van ’n nuwe uniform voorsien, en die geskroeide een het deel geword van die offisiereklub se uitstalling van gedenkwaardighede. Ongelukkig het dit, tesaam met al die ander kosbare en onvervangbare items in die klub, verlore gegaan in die brand wat ’n dekade later gevolg het.
Een ding was egter blywend. Dit was die indrukke wat hierdie professionele soldaat op my gelaat het toe hy, nadat dinge skeef geloop het, die teenwoordigheid van gees behou het, sy opdrag met waardigheid voltooi het, en die spanning met ’n sin vir humor ontlont het toe hy aangekondig het: “I think I’ve been wounded!”
Geskryf deur Johan du Preez
Gedenkkoevert
Hier onder is ’n afdruk van ’n gedenkkoevert en die inhoud daarvan wat uitgereik was tydens die Wynberg Leëroffisiereklub se eeufeesviering. Die handtekeninge daarop is dié van die destydse kommandementsbevelvoerder (brigadier AK de Jager), dié van die komiteelede (kolonel LP Coetzee, kapelaan PH Bosman, kommandante JC du Preez, PR Botha, SA Crouse, B O’Brien en SK Warren, majoor WB Smith, luitenant (SA Vloot) CM Fourie, en tweede-luitenant GD Uys), asook dié van die klubbestuurder (AO1 VG Veale).
Nota: Bostaande illustrasie dien slegs as visuele voorstelling en beeld nie die werklike gebeure of persone uit wat in die verhaal beskryf word nie.
