Kosmaak in ’n laaste rusplek

Oeloff Badenhorst – my jarelange skoolvriend en later jare ortopediese spesialis in Bloemfontein – vertel my hierdie storie.

Hy was destyds ’n burgermagoffisier wat as mediese dokter tot een van die SA Leër se brigades toegewys was. Tydens ’n spesifieke brigade-oefening wat hy by die Leërgevegskool in die Noord-Kaap meegemaak het, het een van die fases van die oefening die verskuiwing van die brigade se hoofkwartier gedurende die nag behels.

Die oefening het skynbaar goed afgeloop, behalwe vir die feit dat, toe dit die volgende oggend begin lig word, gesien is dat die veldkombuis tussen die grafte van ‘n begraafplaas ontplooi was.

Nou, vir diegene wat nie die Leërgevegskool se terrein ken nie, behalwe dat dit dor, wyd uitgestrek en uit fyn, poeieragtige rooi sand bestaan, bevat dit ook verskeie begraafplase van die gemeenskappe wat voorheen daar gewoon het. Die begraafplase was glad nie skouspelagtig soos begraafplase in stede en dorpe nie, maar meesal net groeperings van grafte wat geïdentifiseer kon word aan die nou verweerde grond wat eens daarop opgehoop was. As ’n mens nie vooraf van die begraafplase bewus gemaak was nie, sou die oningeligte dit maklik as maar net deel van die algemene terrein kon afmaak.   

Terug by die veldkombuis.

Die kombuispersoneel was, om verstaanbare redes, nie gemaklik om kos tussen die grafte te maak nie. ’n Versoek aan hul direkte bevelvoerder om die kombuis te skuif, het egter op dowe ore geval. Uiteindelik is ’n afvaardiging na die brigadebevelvoerder om ’n beslissing te kry dat die veldkombuis verskuif moes word. Oeloff moes as mediese dokter saam gaan.

Hy vertel hoedat die brigadier op sy kampstoel gesit en die afvaardiging te woord gestaan het. Verskeie vertoë – ten gunste van, en teen die verskuiwing – is gerig. Die span ten gunste van die verskuiwing het ’n paar swaargewigte gehad. Daar was, onder meer, die gesondheidsoffisier wat aangevoer het dat dit onhigiënies is om kos tussen menslike oorskot voor te berei (al is die oorskot al vir jare lank diep onder die grond), en die kapelaan wat betoog het dat kosmaakaktiwiteite in ’n kerkhof op ontwyding en ontheiliging van die kerkhof neerkom.

Die brigadier het al die argumente aangehoor en die saak, met almal in afwagting, mooi oordink. Toe hy begin praat, was dit duidelik dat hy nie sou toelaat dat kabouters sy brigade beheer nie. Sy ondubbelsinnige opdrag in net drie woorde was duidelik: “Skuif die begraafplaas!”

(Johan du Preez)

Nota: Bostaande illustrasie dien slegs as visuele voorstelling en beeld nie die werklike gebeure of persone uit wat in die verhaal beskryf word nie.