Om een of ander rede onthou ek vanoggend hierdie insident wat in 1976 by 2 Veldgenieregiment in Bethlehem plaasgevind het.
Ek was die spesifieke oggend die paradebevelvoerder tydens die oggendparade. Ons het deur al die stappe van ’n parade gegaan – aantree, kom op parade, appèl, en dies meer. Toe al hierdie dinge afgehandel was, het ek vorentoe marsjeer, die parade aan Kmdt Shy Mulder, die eenheidsbevelvoerder, oorhandig, ’n omkeer gemaak en terug marsjeer om my plek op die paradegrond te gaan inneem.
Dit was met die halt-slag dat my kunsbeen onder my meegee en ek soos ’n os neerslaan. Wat ek veral onthou is die geluid van my R1-geweer wat op die harde paradegrond neergekletter het, en hoedat dit in my ore weergalm het asof dit nooit gaan stil word nie!
Uiteraard het net die wat naby my was, gesien wat gebeur het. Diegene wat verder weg aangetree was, het egter verseker gehoor dat iets abnormaal wat nie deel was van ’n parade nie, aan die gang was.
Ek het opgestaan, my geweer opgetel, en soos ’n goeie soldaat begin om my plek weer in te neem.
Nou moet ek byvoeg dat daar gewoonlik so ’n gewyde, afwagtende stilte oor ’n paradegrond hang nadat die parade oorhandig is, want die volgende wat gehoor word is die kapelaan se rustige woorde: “Laat ons lees en bid.”
Hierdie oggend was dit egter anders. Die kalme laat-ons-lees-en-bid-gedeelte is onverwags voorafgegaan deur die regiment sersant-majoor – Sammajoor Carel Jubbe – se bulderende stem daar ver van agter af: “KAPTEIN, WAT DE DONNER MAAK JY??!!”
Ek weet nie wat die res van die parade se reaksie hierop was nie, maar ek kan net dink dat Ds Jacob van der Merwe, nog voordat hy die Bybel oopgemaak het vir Skriflesing en gebed, geweet het dat niemand ’n woord gaan hoor of onthou van dit wat hy vir daardie oggend voorberei het nie!
Maar ek weet dat diegene wat vertroud is met die plegtigheid van ’n parade, en begrip het vir die gesag van ’n destydse RSM, die humor in my storie sal verstaan!
(Johan du Preez)
Nota: Bostaande illustrasie dien slegs as visuele voorstelling en beeld nie die werklike gebeure of persone uit wat in die verhaal beskryf word nie.
