ʼn Berig ’n paar jaar gelede in die media oor ʼn sekuriteitswag wat aangehou was en hoedat sy aanhouers ʼn ploftoestel om sy lyf vasgemaak het, het my aan ʼn soortgelyke geval jare gelede laat dink.
Dit was in die middel van die 1980’s met ʼn baie onstuimige binnelandse situasie in Suid-Afrika. Onluste, bomdreigemente en selfs bomontploffings met burgerlikes as teikens, het voorgekom.
Ek was destyds ’n lid van die SA Leër se Geniekorps. ʼn Mede-sappeur wat in bomopruiming gekwalifiseer was, vertel hoedat hy op ʼn dag in Pretoria as ʼn waarnemer saam met ʼn bomopruimingspan van die SA Polisie uitgegaan het. Hulle was ontbied na ʼn eenmantak van ʼn bank waar daar skynbaar ʼn bom geplant was.
Om myself te onderbreek – daar was duidelike lyne getrek tussen die rol van die SAP en dié van die SAW tydens die destydse nasionale noodtoestand. Die SAP was verantwoordelik vir binnelandse onlus- en terreurbekamping, terwyl die SAW verantwoordelik was vir veiligheidsoperasies om die landsgrense te beskerm.
Die SAW was ook ter ondersteuning vir die SAP beskikbaar indien hulle hulp of addisionele mannekrag benodig het. Die verskil in doktrine, benadering en optrede tussen die SAP en die SAW het egter veroorsaak dat daar nie altyd oor die uitvoering van die taak saamgestem was nie. Die SAP het hul ook telkens daarop beroep dat hulle in beheer en die SAW ter ondersteuning was (en dus dalk maar moet maak soos die SAP sê). Maar dit is ʼn onderwerp op sy eie.
Dus, my genie-kollega het die SAP se bomspan daardie dag vergesel, maar hy het nie ʼn uitvoerende rol gehad nie. Inteendeel, hy het die subtiele boodskap gekry dat hy nie moes inmeng nie.
By die bank aangekom, was daar inderdaad ʼn bom. Wat meer was, die verskrikte bankamptenaar het bo-op die ding gesit!
Die man vertel toe dat hy deur rowers oorweldig was toe hulle die tak kort tevore beroof het. Tydens die rooftog het hulle het ʼn pakkie op sy hoë stoel agter die toonbank geplaas en hom beveel om daarop te gaan sit. Hulle het toe ʼn veiligheidspen uit die pakkie getrek en hom meegedeel dat hy op ʼn bom sit, dat die meganisme geaktiveer was, en dat die bom sou ontplof indien hy sou opstaan.
Al wat die man kon doen nadat die rowers weg was, was om te wag vir iemand om die bank binne te kom. Toe dit gebeur, is alarm gemaak en is die polisie ontbied.
Soos dit met geprakseerde ploftoestelle gaan, is almal verskillend. Jy weet nie waarmee jy te doen het nie. In hierdie geval was die situasie nog meer kompleks. Dit was nie moontlik om by die bom uit te kom om dit te probeer skadeloos maak nie, want die bankamptenaar het daarop gesit. Al opsie was om hom lewendig van die bom af te kry!
Die manne in blou het toe allerhande planne beraam. Een van die voorstelle was om ʼn dun plaat tussen die amptenaar se boude en die bom in te skuif, drukking daarop te hou, en die man dan te laat opstaan. Dit was egter te riskant.
Die plan wat wel aanvaar was, was om ʼn tou om die bankamptenaar se lyf te bind, dit deur die oop deur wat na buite te gelei het aan die SAP se Ford Cortina XR6 wat buite was vas te maak, en dan so vinnig as moontlik met hierdie kragtige voertuig weg te trek. Die idee was om die amptenaar na buite weg te pluk voordat die bom ontplof!
Afgesien van die feit dat springstof onmiddellik detoneer wanneer die ontstekingsmeganisme geaktiveer word en daar dus nie ʼn kans was om die amptenaar ʼn millimeter na veiligheid te pluk nie, was die res van die plan ewe absurd en bisar om selfs eers aan te dink!
Die bankamptenaar het nie daarvoor kans gesien nie. Hy het toe besluit dat hy eerder self van die bom af sou opstaan in die hoop dat dit nie werklik ʼn ploftoestel was nie. Die manne het die bank verlaat, die gebied beveilig, en laat weet dat hy maar kan opstaan … wat hy toe gedoen het.
Dit was toe nie ʼn bom nie!
En êrens vandag in hierdie wêreld is daar waarskynlik ʼn polisieman wat steeds voel dat iets hom ontneem was die dag toe hy nie die kans gegun was nie om ʼn bankamptenaar met ʼn Cortina Big Six met rokende bande aan ʼn tou uit ‘n gebou uit te pluk!
(Johan du Preez)
Nota: Bostaande illustrasie dien slegs as visuele voorstelling en beeld nie die werklike gebeure of persone uit wat in die verhaal beskryf word nie.
Die Ford Cortina XR6 soos destyds gebruik deur die SA Polisie
