Sammajoor Pienaar en die rioolslik

  1. Militêre Basis, Kroonstad.

Stafsersant Donaldson was die transport-onderoffisier van 35 Geniesteuneenheid toe ek die eenheidsbevelvoerder aldaar was. In hierdie hoedanigheid was hy in beheer van die eenheid se voertuie wat sedanmotors, vragmotors, grondverskuiwingsmasjinerie en ander spesialis voertuie ingesluit het.

Sammajoor Nieuwoudt, die regimentsammajoor, het ʼn kontak by Kroonstad se rioolplaas gehad. Hy reël toe vir ʼn hoeveelheid rioolslik wat hy as bemesting in die eenheid se tuine wou gebruik, en gee vir Staf Donaldson opdrag om die slik met ʼn wipbakvragmotor te laat haal.

So gesê, so gedaan. Nieuwoudt maak tuin met die stinkste bemesting wat ek nog geruik het, maar die eenheid se tuine lyk mooi!

Nie lank nie of van die inwoners van die militêre basis begin ook vir Staf Donaldson bemesting vir hul private tuine vra. Donaldson sien geen probleem daarmee nie en gaan haal nog ʼn vrag wat hy bietjie-vir-bietjie by die onderskeie huise aflaai. Die inwoners maak ook tuin met die stinkste bemesting wat ek nog geruik het, maar die basis se tuine lyk mooi!

Maar toe begin die moeilikheid.

Sammajoor Pine Pienaar van die werkswinkel (om nie verwar te word met Sammajoor Hakkel-Pine Pienaar van die ondersteuningseksie nie) vra toe ook vir Staf Donaldson van die rioolslik vir sy tuin. Belangrik om te noem dat Pienaar nie in die militêre basis gewoon het nie, maar in ʼn private huis in ʼn redelik gegoede en gevestigde woonbuurt in die dorp. Ook belangrik om uit te wys dat Donaldson en Pienaar nie langs dieselfde vuur gesit het nie.

Weer eens sien Donaldson geen probleem met die versoek nie. “Reg so, Sammajoor. Ek doen dit sommer vandag nog!”

Daardie middag toe Sammajoor Pienaar by sy huis kom, lê daar ʼn wipbakvragmotor se vrag rioolslik op sy oprit wat Donaldson die middag met daar afgelaai het! Pienaar het tuin gemaak, sy bure het tuin gemaak, almal in die blok en in die buurt het tuin gemaak, maar hulle kon nie ʼn duik in die vrag stinkende rioolslik maak nie!

Ek kan nie onthou of iemand die onwelriekende massa bemesting uiteindelik verwyder het ten einde moeilikheid met die munisipale gesondheidsinspekteur te verhoed nie. Wat ek wel weet is dat Pienaar daarna nooit weer ʼn woord met Donaldson gepraat het nie.

En waarvan ek ook bewus was, was die fyn glimlag om Donaldson se mondhoeke elke keer wanneer hy Pienaar gesien het. Maar, vir diegene wat nie van die rioolslikpetalje geweet het nie, sou dit nie veel beteken het nie!

(Johan du Preez)

Nota: Bostaande illustrasie dien slegs as visuele voorstelling en beeld nie die werklike gebeure of persone uit wat in die verhaal beskryf word nie.